Die Kleinmond Kalender

In die dae voor hierdie spesifieke Gautenger See toe gaan, lyk my huis en haard soos die dae voor die skepping.  Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters…

Ek haal aan uit die nuwe vertaling, onbewoonbaar, want die ou vertaling, woes en leeg, die is net nie van toepassing nie.  Hier is dit woes en vol, woes en deurmekaar, woes en gespanne, woes en wild, met ander woorde, heeltemal onbewoonbaar.

In September al, begin die hopies in en om die huis vorm, want om nóú iets weg te pak wat Saam-Gaan-See-Toe (SGST), is net ‘n mors van tyd, ‘n toutologie, ‘n dubbele werk, en julle weet mos al, nie alleen werk ‘n Gautenger nie onnodig dubbel aan ‘n ding nie, maar hierdie spesifieke Gautenger is mos ook effens lui vir werk, wat nog te sê ‘n ding onnodig twee keer doen (ek het op die lang en moeilike manier geleer: measure twice, cut once)!

Om die spanningsvlak te verstaan, moet julle die 4 Gautengers verstaan: Pa Gautenger, aka die Strewer, doen alles met geld:  hy beplan, begroot en bederf al vandat ek hom ken.  Niks is regtig vir hom ‘n groot bron van spanning nie (behalwe, natuurlik, om die geld in die eerste plek te verdien!).

My eersgeborene is die Ongeduldige Een.  Hy ervaar alles in die oortreffende trap en ons vakansieplanne maak hom in BAIE OPGEWONDE, die eksamen is moer-moeilik, die lewe is ‘n malse fees. Hy maak gladnie hopies nie en gryp alles wat hy besit (klere, selfoon, sonbril en horlosie) die aand voor ons ry, prop dit in sy sportsak en kondig aan: so, wanneer ry ons.  Hy weet dan ook gladnie hoekom ek nou al wil weet of hy wel SGST nie!  Nietemin, dan is daar my jongste, die Toegewyde Een.  Hy skryf matriek maar bekommer gladnie, hy het sy Pa se verstand ge-erf… Hy voeg dan ook ongesiens klein items by my hopies want hy sien my wroeging raak en beplan sy sake haarfyn.  Hy sal self sy tas pak, dankie, hy sal self sy sakgeld sorteer dankie, en ja Ma, my selfoonlaaier is gepak, en my lisensie, en my bankkaart.  Hy is pas 18 en neem die grootmenswêreld nog ernstig op.  Hy het ‘n rustige en geduldige geaardheid en hang so net-net op die rand van my gravitasiekolk rond – hou soort van ‘n wakende oog oor sy moeder, dit is nou ek.  Die Angstige Een, die gelower dat álles goed en mooi is.  Ek loop my ook heeldag en verwonder aan alles en my aandag word maklik afgelei deur die klein stomp-voet Janfrederik wat kom kaas soek en die feit dat ek ‘n outomatiese motor ry en die wonder dat ek al ‘n dekade lank in Gauteng oorleef en die dvd van die seuns se waterkaskanades in 2005 en die foto van… Gits, waar was ek – o ja, darem al in Oktober.

In Oktober begin my begrotingbekommernisse en die Strewer slaan geduldig daardie vure dood: weet julle wat kos petrol deur die Karoo?, dan troos hy: toemaar, Mooitjie, ek het begroot daarvoor.  Sodra ek meen dis binne-seisoen en hoe gaan ons ‘n vakansiehuis bekostig? Toemaar Mooitjie, ek het beplan daarvoor.  (Onthou nou, Ma woon wel by die See, maar hierdie jaar gaan die hele familie see toe en moontlik sal ons stadsjapies maar in ‘n hotel ‘n plek moet bespreek). 

Maar my bekommernisse word vinnig weg bederf en ek hou my besig met aardse goed: waar steek ek my 2 goue ringe weg, watter tasse pak ons, moet ons rotsklimskoene ook saamvat, waar is ons Nuwejaar, op die strand of in ‘n restaurant (Die Ongeduldige Een: wat maak dit saak,Ma! Die Toegewyde Een: dit maak nie saak nie, Ma lyk mooi in plakkies, die Strewer: ons koop sommer vir jou hoë hakkies by die V&A as ons in ‘n restaurant eet Mooitjie…). Hy weet baie goed as ek in Kleinmond aankom, bly ek net daar, vir die hele 3 weke, ek gaan nie na besige malls toe nie, ek ry net to by die naaste wynplaas en gaan verlustig my aan die ooptes, die rye olyfbome en die netjiese wingerde.  Eet ook dan vreemde mooi kos, terwyl die Strewer wynproe en bokse vol bestel vir al die familie in die binneland.

Tussen-in wroeg ek oor die Matriekeksamenprogram, want hoe moet ek weet of ons die Dinsdag of die Woensdag in die pad gaan val.  Want ek moet die oorslaap bespreek by Travalia so net verby halfpad.  En nodeloos om te sê, die seuns wil van oorslaap niks weet nie:  die Ongeduldige Een: Ma, ‘n mens ry deesdae (wat weet hy van die ou dae?) in een dag deur Kaap toe, Ma.  Dan voeg die Toegewyde Een versigtig by:  Dit gaan my eerste rit Kaap toe wees Ma, ek sal graag die moordenaarskaroo self wil aandurf en sien hoe dit gedoen word (hy praat regtig so mooi Afrikaans!). Hy wil hy nou in die Ongeduldige Een se spore volg – dié het in sy matriekvakansie alleen afgery Kaap toe (ek moet Wimma optel, Ma), en vandaar via die Tuinroete – (dis mur pragtig hier Ma, sms hy), na Plettenbergbaai gery waar hulle die Plett Rage bygewoon het…  Van die Rage gepraat – die Toegewyde Een kies om eerder Japan toe te gaan en ek het sy hopie op die glasblad gereed: splinternuwe paspoort (weggekamde hare en al), bestuurslisensie, reisigerstjeks en rande.  Aai, hoe ek hom van die Kaap gaan terugkry O R Tambo toe die dag na Nuwejaar, is ‘n reëling wat definitief bydra tot die woes en wild van die dag voor ons See toe gaan.  My Toegewyde Een het dus 2 (weliswaar netjiese)hopies: See Toe en Japan Toe.

Intussen slat die blitse kort-kort ons internet en sekuriteitskameras flenters en die donderweer bulder bevele uit: wie gaan na die papagaaie kyk! Jy beter ADT laat weet dat julle weggaan!  Hoe kan jy wil weggaan vir langer as ‘n week! Wat van die boewe, die diewe, die skurke, die – ja, ja – sug ek terug, en verwonder my aan ‘n Hoëveldse donderstorm: donker, amper pers wolke so met die jakarandabloeisels in die voorgrond, wanneer die son deurbreek: grasgroen-goudgeel Gauteng – haal diep asem in 2 3 4 …

November is eksamentyd, afhandeltyd, hope antwoordstelle om te merk – vir 13 dae en 13 nagte lank oefen ek nie, slaap ek nie, lees ek nie fiksie nie, lê ek nie los rond nie – ek fokus op die antwoorde, want glo my, om die verskil tussen regte en behoeftes vir 25 punte te omskryf kos fyn dinkwerk – om doodgewoon te lys wat ‘n mens alles wíl hê teenoor móét hê werk nie vir my of die Unisa dosente nie.  En as ek mos aan een ding moet dink die hele tyd, dan gaan staan en dink ek aan ander goed ook…so asof Paulus my persoonlik geken het…

Dus dink ek nie in November nie, ek doen net:

Merk merk merk, werk werk werk en tussen-in dra ek vrugtesap en gesonde kos aan – die Toegewyde Een is midde-in die eindeksamen en ek het op rsg gehoor dis my plig / reg / voorreg om ’n gemaklike atmosfeer te skep vir die matrikulant, met baie vars water, groente en sap.

Langs die hopies, begin die lysies.   Op klein blokkies  herwonne papier – soos by my Pa geleer – begin ek skryf:

–         Verf die binnehof

–         Bel bye-boer om die nes in die watermeter te verwyder

–         Peanuts vir pappegaaie

–         Katte bespreek by kattery

–         Weet ADT ons gaan weg,

–         Weet die koerant ons gaan weg

–         Weet die boewe ons gaan weg

 

My kop word gek!  En net daar piep die reminder op my stok-ou blackberry: Google nervous breakdown (I kid you not! – ek moet ‘n kliënt raadgee oor haar saak by die CCMA). En sy meen sy het ‘n nervous breakdown gehad en kan ek dit in my verslag sit asseblief.  Ek onthou egter duidelik dat my Unisa dosent ons destyds gemaan het: daar is nie iets soos ‘n senuweeineenstorting nie – dit is ‘n leke-term vir ‘n hele klomp akute simptome van angstigheid en die onvermoë om aan te pas.  In die eksamen moes ons kon antwoord: wat stort in een, hoe stort dit in een, waar laat dit die pasiënt / die gesin / die famile / die samelewing / die land / die wêreld – my kop gaan bars!  Haal diep asem … in  2 3 4… o gits, nee, asem uit 5 6 7 8 … ek gaan dit nie maak nie, my ore sing, my keel trek toe, ek voel iets akuuts aankom!

 

–         Waar was ek – die katte is in die kattery.  Check

–         Daar’s hope kos en vars water vir alle gediertes wat agterbly op ons werf. Check

–         Definisie van nervous breakdown vir die CCMA – internet is nog af!  Boekrak toe, dus – terug na die lysie toe, sal nou-nou oplees, ek raak mos so half weg in ‘n boek en dis vir my moeiliker  om ‘n boek as ‘n stuk koek neer te sit.

En julle, ek trek nou eers in November.

My lysies word langer:  kersgeskenke (ek koop nie my geskenke in die Kaap nie, Gauteng is tog die mekka van die Mall): vir Ma, ‘n dagboek, vir Seisie, ‘n juweelstuk, vir die niggies, juweelkissies met ballerinas in (ja, ja, ek vermoed dis outyds, maar ek het nie dogtertjies nie en toe ek ‘n dogtertjie was, was dit vir my die mooiste ding!) Ag, dis die maklike lys, die moeilike lys: vir Swaer, my Gebroeder en my Oom – hulle speelgoed is GPS’se, hengelgereedskap en rooiwyne (uhm, wat ek tog nie in Gauteng kan koop en afsuiker Kaap toe nie – aha, ek kan bier koop, wat hier bo in die Wieg van die Mens gebrou word!  Skryf op my lys: Muldersdrift bier soek met die seuns en die Strewer.  Hulle sal dit geniet en nie vir ‘n oomblik dink dat ek eintlik besig is om my pligte en take te deligeer nie.  Die dae raak min vir goeters doen: bestuurslisensie vir die Toegewyde Een, bestuurslesse ook nog, bonusse vir die werkers, busse bespreek vir hul vakansie na die Noorde.

Middel-November lê my lysie drie blaaie dik: padkos, petrol, patch & solution, verkyker, sonbril, selfoonlaaiers (dis die goed wat ek gewoonlik vergeet).

Tweede lysie: somershorts, growwe ontbypap, (nog) nuwe strandhanddoeke (ek sweer, soos wat klerehangers kan aanteel in ‘n hangkas, so kan handdoeke uitsterf in ‘n linnekas).

Derde lysie: Bevestig die kathotel (al in Julie bespreek…), bevestig die motordiens (al in Augustus bespreek), bekyk die spaarwiel, soek die skoewe vir die dakrak.

Teen einde November is ek ‘n mens met ‘n missie en jy sien net katte spat soos wat ek kasdeure oop-en-toe klap, vensters vasmaak en sleutels wegsteek onder hopies klere agter in die donkerste kas (sommige boewe neem tokkelossies nog ernstig op).

Wat soek die bier op die ys? – bulder ek.  Dis donkeroggend en ons is gereed om te ry. Al drie Onskuldiges kyk my kalm aan: ons dog dis padkos, antwoord hulle uit een mond…

Haal diep asem in 2 3 4 …

Pak terug die geskenkbier, haal uit die Energade (ons gaan in een dag afry, jubel die Ongeduldige Een).

Deur die Karoo bond ons ongelooflik – daar’s niks soos 4 Gautengers in  een motor vol toebroodjies, oranje energade en Heinekens nie (die Strewer reis nie daarsonder nie). Ons kan nie dringende UIF betalings doen, wiskunde hersien of FHM meisies bekyk nie.  Ons kan nie die beurs dophou, die agterstallige e-posse antwoord, kliënte troos of die stoorkamer regpak nie.  Niks – ons het net mekaar en mekaar se geselskap – hoe wonderlik is dit nie!  Ons gesprekke wissel van die EFF en die 2014 verkiesing, wat is die Higgs boson, is dit ‘n reg of ‘n voorreg om nog in Afrikaans matriek te kan skryf, is ‘n pienk diamant mooier as ‘n witte, wat vir ‘n musiek genre is trap, hoe straf jy ‘n surrogaat-ma wat die baba behou en wat kap so agter in die kattebak?!

Ons stop altyd op Drie-Susters, daar is voëltjies om te voer en spesiale drinkplekkies vir die Brakiekie. Maak vol, gaan piepie, strek die bene, drink water, eet ‘n Crunchie, sms Ma en Skoonma op wie se gebedslysie ek al sedert eergsiter is, toe ek by altwee huil dat ek nie gaan klaarkry met alles nie.

Op Touwsriver stop ek (Ma!, druk deur, ons het genoeg petrol, kerm almal gelyk).  Maar die ou sentimentele-ek wil die kalkoene sien, want ek sal nooit vergeet hoe lekker my Ongeduldige Een geskaterlag het toe hy kalkoene vir die eerste keer gesien het nie, net mooi 18 jaar gelede! En elke jaar stop ek daar – hy lag lankal nie meer vir kalkoene nie, hy lag nou vir Julius, maar ek geniet die onthou so baie, dit gee my genoeg energie om dan deur te druk tot in Kleinmond.

My lyf is styf en natgesweet.  My maag is vol vreemde goed soos litchi water, te veel all sorts, kafee-koekies en kaasbroodjies.  Ek begin verlang na my mense en traan terwyl ek ry. Die Ongeduldige Een bied aan om oor te neem by die stuur, maar ek, die beheervraat, ek wil daardie laaste heuwels self ry. Al vir meer as dveertig jaar ry ons van die (ou) Transvaal deur die ganse land na die mooiste see in die hele wêreld.  Ons gesprekke draai by renosterbeskerming versus behuising vir vlugtelinge en ek word al hoe anstiger, want hoe red ‘n mens albei!  Ek voel of ek ‘n senuweeineenstorting gaan kry… Skielik sit die Toegewyde Een sy seningrige hand op my skouer.  Ma, sê hy hier van die agterste sitplek af, ek sien die see.

En julle – ek het nie woorde vir daardie gevoel nie.  Dis asof ‘n swaar, soliede deur toeskuif tussen my en Gauteng, die atmosfeer in die motor verander opeens, bose (Gauteng)geeste sluip skelm en haastig uit die motor uit en ‘n gevoel van welbehae daal oor ons neer. Van hier af is die motor in vry-ry, asof sy die pad ken.  Sak af in die vallei in, verby die blou kraanvoëls in die koringlande, die baksteenmakery, die bekende wynplase, regs afdraai na Kleinmond.  Ek verminder spoed en soek na die wilde perde, ry nog stadiger oor die brug, sien dit is hoogwater, by die tennisbane verby, in hoofstraat dwarsdeur die bekende en geliefde dorp, verby die begrafplaas en links af in Singletonstraat in.  Ek stop met my neus na die see.

En God het gesien dat dit goed is… (ou vertaling)

Jip, in enige vertaling is dit presies hoe ek ook voel as ons veilig met hond en kind en kraai in Kleinmond aankom – met Ma wat al vandat ons verby Villiersdorp is, die pad staan en dophou – die keteltjie het gekook, die wyn is op die ys en haar spesiale lasagne is in die oond.

Dan sug my Strewer behaaglik: How can life be bad… terwyl hy geduldig wag dat ek eers die see-lug in asem, die berge se profiel met met my oë natrek, die fisante groet en oor die geel speldekussings streel voor ek hom uithelp in sy rolstoel in. 

Advertisements

Perdeby se Gat

Dis van small-mindedness en pure luiheid dat ek perdeby se gat raakgesien het.
Ek sit party middae op die bed met Flash Merlin (ons groot wit kat) op my skoot. Soms lees ek, soms merk ek en soms kyk ek sommer net weer Billy Elliot. Vir een hele week lank hoor ek die bzzzzzzt van ‘n lastige vlieg of ‘n ding – van luiheid staan ek nie op nie en vermoed bloot die arme ding probeer seker teen die venster uitvlieg. Maar na die derde dag meen ek as dit dieselfde ding is, behoort hy nou al doodgevlieg te wees. Maar hy bzzzt met ongelooflike energie. Ek vou Flash op en klim lui van die bed af: waa’s jy, vra ek die gebrom. Sien niks by my juwelekissie, my klippe-bakkie, my kershouer of my parfuumbottel nie – dis waar ek gedink het die geluid vandaan kom. Terug op die bed, Flash terug op my skoot. Die volgende dag dieslefde ding. En dit karring my voorbrein om nie te weet wat dit is, wie dit is en hoe dit nou al vir ‘n week lank kan bzzz sonder om dood te wees nie.
Toe ek dit weer hoor, staan ek lui-lui nader – nee, te laat, dis weg.
Die volgende dag is ek gereed – net toe ek dit hoor, kyk ek op, staan op en gaan nader. Niks. Terug op die bed, nogals afgepiss (ekskuus, die Ongeduldige Een is hier vir die naweek en die taalgebruik verval dan in lui studente-taal: dinge is kak warm, mur laat en fok’in moeilik…) Nietemin, terug na Dr Watson… met groot geluk en heeltemal toevallig, sien ek die swart-en-geel poot perdeby ingevlieg kom by my groot glas skuifdeur. Bzzzzzzzz – ek volg haar met my oë en kyk verwonderd hoe sy teen die plafon in die gloeilamp se gat verdwyn! BZZZZZT in hoofletters, dan, wanneer sy in is en iewers agter die lampie vroetel, bzzzzzt sagter en in kleinletters. Ek glimlag, vertel vir Flash dat ek hom nie weer sal pla nie en lees sommer ‘n fiksie van pure beloning na my harde navorsing.
Weke lank het sy kort-kort by die glasdeur ingekom, reguit na die 3de gloeilamp toe, ingevlieg en gevroetel. Wanneer ek nader staan as sy aankom, gooi sy ‘n effense draai maar vind steeds haar gat. Die gedagte dat sy klein modderklontjies aandra om haar nessie te bou, dan klein wurmpies aandra om haar kleintjies te voer, laat my gelate van verwondering.
Ek het dus vir die eerste keer nou die dag my effens gewip (darem nie afgepiss nie) vir ‘n kliënt… hy kan niks regdoen, regkry of verstaan nie. Sy lyf pyn, sy kop is dof, sy werk is kak sleg, sy vrou is mur moeilik en sy kid is fokin’ lui. So gaan hy vir die derde sessie aan, ten spyte van ‘n slim raamwerk om sake vir hom te vergemaklik. Toe hy dus eergister weer sit en pyn op my rusbank en ek hom vra of hy medikasie geneem het en hy net sy kop skud, toe meen ek: as jy nie eens vir jou eie lyf luister nie, hoekom sal jy vir my luister? Ek sit toe maar my berader gesig op en luister hoe hy sug terwyl ek aan die perdyby dink. So fluks, so gretig, so gedienstig. Laat dit nou vir my ‘n les wees. Maar wag! Vir my?? Vir jou, jou twak! Ek haal diep asem: het jy al ooit ‘n perdeby gevolg tot by sy gat, vra ek skielik aan die verwonde kliënt.
Ek het hom nog nie weer gesien nie, maar ek het gehoor dat hy fine is. En sy vrou is eintlik mur mooi, sy werk is lekker, sy kid het halwe-ere-kleure vir sport…Perdeby se gat

Kyk-weer

Na aanleiding van die vorige skrywe, kyk weer ‘n bietjie hierna en skud jou kop lekker– hehehe:

“The world is passing through troublous times. The young people of
today think of nothing but themselves. They have no reverence for
parents or old age. They are impatient of all restraint. They talk as
if they knew everything, and what passes for wisdom with us is
foolishness with them. As for the girls, they are forward, immodest
and unladylike in speech, behavior and dress.”

Wie dink jy het dit geskryf? Een of ander NG dominee? ‘n Politikus of maatskaplike werker in 1980? Dit was natuurlik niemand anders nie as as my gunsteling grotman Pieter die Hermiet in 1247 – so 700 jaar gelede…

Geen wonder ek kry niks weggegooi nie.

Tydskrif

Eers dog ek dis omdat ek mos maar lui is (my werk lê in sediment-lae van gestruktureerde, gedateerde stapels …).  Kobus weer, meen dis omdat ek anal retentive is, want ek sukkel ook vreeslik om besluite te neem en keuses te moet maak. Maar sê julle vir my wat my makeer…

Ek kry die dunste tydskriffie hier tussen my stapels:  S.A. Tydskrif vir Geneeskunde.  Dit het geen fotos of prentjies in nie, net rye en rye getikte inligting. Die titel: Die aanpassing van Jeugdiges in die Samelewing.  Die blaaie is vergeel, die datum is die 10de Februarie 1962 – ek was nog nie eens gebore nie.  Dis deur Dr. Richard Cheetham geskryf en aan my Oupa Lückhoff gegee, en ek haal aan:

“Dit het heeltemal gebruiklik geword om die probleme van jeugdiges op ‘n negatiewe manier te benader.  Ons voel gesteurd en verontrus oor die jeugdiges, eendsterte, “teddy boys”, “beatniks”, skollies en tsotsies, met die gevolg dat ons ‘n positiewe belanstelling in en benadering tot die probleme in hierdie verband veloor.” 

Toe, gooi jy dit weg, want ek kan nie 🙂  Inteendeel, ek gaan dit skandeer en aanstuur  vir almal wat dag in en dag uit oor hulle jeugdiges kla.  Die artikel sluit af: “Die onvermydelike gevolgtrekking waartoe ons dus moet kom is dat ‘n samelewing opgesaal sit met ‘n jeugprobleem waarvan hy self in ‘n groot mate die skepper is”.

Ek beter my 2 jeugdiges gaan haal om saam met my die eikeboom terug te snoei en die uilhuis skoon te maak – hier roep juis ‘n gevlekte ooruil so net voor vyf soggens.

 

Fynbos-artikel op aanvraag

Help! Die kleinkinders kom kuier…

En hulle bring hulle iPads en blackberries en gadgets saam!  Hoe kompeteer ‘n mens met die Kardashians?  Is dit moontlik om slimmer te wees as Google? Stap saam met my see toe, dan vertel ek julle…

Ek was veertig jaar gelede ‘n kleinkind in Kleinmond. En mensdom, het my Oupa gadgets gehad! Hy sou laatmiddag sy langlyf strek, ons kinders nader roep (my neus in ‘n boek, my boetie se neus in die rooiaasemmer) en voor die ‘glas’ gaan staan. Dan tik-tik-tik hy daarteen, knik statig met sy kop en kondig stellig aan: die glas val, more oggend gaan vang ons vis.  Ek en Frans sou dan minute lank nog na die glas staar, in absolute verwondering. Die ding val glad nie én dit vertel vir Oupa dat ons more kan gaan visvang … wat ‘n gadget!

Nietemin, die groot regmaak begin en ons pak aasmandjies en piekniekmandjies, strop hoeke en – die loodjies is op!  “Oupa!”, roep Frans verlore, want Allerlei is al toe en ons het niks loodjies nie.  Dit is dan wanneer Oupa sy tweede gadget uithaal – die loodsmelt-vormpies.  Ons skarrel soos suikermiere deur die strandhuis om die wynbottels se lood vir hom te bring. Hy vat al die ou stukke lood wat ons deur die vakansie in die poele opgetel het, roep vir Ouma nader en vra of hy maar haar jaffelpan ook kan smelt vir ekstra lood. Dan raas Ouma kamma-kwaai en my boetie bekommmer hom vreeslik want hy vrek oor jaffels.  Oupa lag lekker en leer ons die verskil tussen lood en gietyster en ons mag met ‘n spyker op ‘n stukkie lood krap om die verskil te sien. Dan smelt hy die lood op die stoof en gooi dit versigtig in die gietvorms terwyl hy verduidelik soos wat hy werk.  Toe Frans ouer word, het hy hom toegelaat om self die lood te giet.  Die volgende dag mag ek daardie blinksilwer loodjies uithaal en uitdeel tussen almal wat gaan visvang.

Wanneer die see ”opstaan” dit wil sê nadat die Noordwester gaan lê het, kan geen mens gaan visvang of poele toe nie. Dan stap ons saam met Oupa teen die bergpaadjie uit.  Hy wys ons hoe om piepklein volstruisies te maak: vat die bolletjie van die Koffiebos (Albiflora), trek dit versigtig af ondertoe en daar is die volstruisie!  Soos wat ons aanstap, vertel hy ons van loof en eers wanneer ek begryp dis groengoed en nie kerkliedjies nie, dan vertel hy van proteas, vat liefderyk aan elkeen en noem hulle op grootmens-name (genus en spesie).  Wat kan mooier klink as Oupa se stem: Mimetes hirtus, Oleifolium (lees ouleeu-vouleeu, wat vir my natuurlik sprakeloos gelaat het omdat blomme in die Kaap die name het van diere in die wildtuin waar ek gewoon het), Leucospermum cordifolium (komaan, waag dit om dit hardop uit te spreek en kyk hoe spits daai oortjies – die name is ewe eksoties as die Kardashians s’n).  Wanneer ons warm gestap was, stop ons ‘n rukkie om Oros te drink.  Dan haal Oupa sy vergrootglas uit.  Ons soek ‘n plek waar ons plat op die maag kan lê, langs Oupa, en hy wys vir ons stuifmeel, en goggas wat lyk soos stuifmeel; muisdrolletjies en sade wat lyk soos muisdrolletjies.  ‘n Hele oggend gaan so verby sonder dat ek ooit wil boeklees of winkels toe gaan.  Oupa se slim stem verduidelik die wonder van die natuur, die vreugde van ‘n vergrootglas en – toe hy sien dat ek en Frans ewe verwonderd deur sy vergrootglas kyk, kry ons elkeen ons eie enetjie persent – wat ‘n vreugde! Tot vandag toe, veral wanneer ek so sit en staar in Gauteng (ons werk en staar mos maar hier bo), dan vou ek my vergrootglasie oop en gaan bekyk iets in die tuin – dit verplaas my gedagtes onmiddelik na goeie tye saam met Oupa en Ouma See.

Op spesiale dae soos verjaarsdae en Sondae, het ons feetjiehuisies gebou.  Mosvloertjies, sewejaartjiestoeljies, varingdakkies en deurtjies van droë bas.  Ek het  klein paadjies uitgelê met skulpies en Frans het torre en goggas gaan soek om daarop te laat loop.  Na ete rus almal en teen laatmiddag gaan loer ons opgewonde of die feetjies al kom kuier het.  Ek kan nie onthou hoe oud ek al was voor ek besef het dat Ouma al-die-tyd skelmpies die Allsorts en Humbugs gaan neersit het binne in die feetjiehuisies nie.  En natuurlik koop ek tot vandag toe Allsorts en Humbugs omdat ek stom staan oor die feit dat Woollies dieselfde swieties het as die feetjies … 🙂

Oupa het gadgets gehad waarmee hy alikreukels gemeet het, die gasstoof aangesteek het, seekatte uitgelok het en krewels gepomp het.  Hy het ‘n gaasyskas gebou wat met stukke seespons en bamboes geïsoleer is.  Dit het onder die watertenk gestaan en altyd die waatlemoene en spanspekke koel gehou.  Vandag se gadgets stuur boodskappe vinniger die hele wêreld vol en neem foto’s van alles. As mens mooi dink, is dit basies maar dit.

**Wanneer die kleinkinders met hulle baie gadgets kom kuier, vat dit saam met julle rotse toe.  Gaan hurk by die poele. Hou hul lyfies styf vas en laat hulle laag afbuk om vir seekat met die riet en die rooi lint te terg. Gil en giggel saam wanneer hulle skrik as daai suierpootjie skielik uitsteek.  Laat hulle dan ‘n  gadget uithaal en neem dit af! Stuur dit dadelik na YouTube, plak dit op Groen se facebookbladsy, twitter dit vir Juffrou in Gauteng, bbm dit na die maats en binne femtosekondes weet die hele wêreld dat ‘n kleinkind in Kleinmond saam met sy Oupa en Ouma gesien het hoe ‘n krappie sy dop afgooi, hoe ‘n dikkoppie ‘n stukkie slak- asie kom gaps en hoe uiters stadig ‘n seestêr loop.

Wat enige kind, enige plek in die wêreld soek, is agting, deel-wees van liefde en aandag. Wat Oupas en Oumas dwarsoor die wêreld het om te gee, is presies dit.
** Harry Harlow het in 1958 al in met sy navorsing gewys dat apies, nes kinders,vasklou aan warm, sagte Mammas, eerder as koue draad mammas, selfs al het die sagte mamma nie kos nie.

Oor spykers en rogtrossies

Toe ek die eerste keer in Carl se oë kyk, toe glimlag ek – met net efffense tande, want ek was bang die arme dingetjie, so plus minus 6 ure oud, weet nog nie wat tande is nie en skrik as hy my hele groot glimlag op een slag sien.  Toe ek sien hy skrik nie, toe skop die Nurturing Parent in en ek leer hom alles.  Hoe ruik die wind, hoekom word klippe warm in die son, waar kom branders vandaan, hoekom noem ons dit branders as dit nie brand nie, wat beteken harp-en-siter-tone, watter kant is Wes, sewe-dae-in-die week, wiele is rond, ‘n naak slakkie is ‘n kaal slakkie maar nie ‘n Carl slakkie nie.  Ek leer hom goeie maniere, veters vasmaak, stip kyk tot jy skeel kyk, spoorsny, bokdrolletjies uitken en hoekom is ons harte seer as Oupa Carlie doodgaan.  Ek vertel hom  ons word almal soos  Jona deur ‘n vis ingesluk, dan kom ons wyser anderkant uit.  Ek verduidelik dat wiskunde, weetkunde beteken en ongelukkig weet mamma niks van wiskunde nie. 18 Jaar lank leer ek hom alles wat ek dink hy moet weet (arme kind, die Jode hou al op 13 jaar op 🙂

En hy leer.  Hy noem voëls by die naam: swartkeelgeelvink, rooi-oog-bosduif en lepelaar.  Hy sê (ten minste voor ander mense) dankie en asseblief.  Al weet ek niks van karre nie, leer ek hom dat daar wel iets soos ‘n enjin onder die enjinkap sit – iemand sal dit diens,  jy moet hom net betaal.  Ek wys hom hoe ruil mens ‘n wiel om (uit die AA Book of the Road) en hy kry dit self reg op die plaas nou die dag 🙂 Ek wys hom hoe om eiers te bak, komkommer te skil en met die vurk te krap, en koffie altyd te sterk eerder as te flou…

Dit alles leer ek hom – en nog duisende ander goed.  Maar dis soos die tit-for-tat lysie, daar is nooit ‘n wenner nie want die lysie is oneindig lank.  Verlede jaar los ek hom op die PUK kampus en hy leer dat as jy nie leer nie, her jy.  Hy leer dat dronkword jou met kopseer los in die oggend.  Hy vergeet al die voorbrein lesse en hang in die gemoed rond in ‘n benewelde toestand.  Hy oorleef Oppi-koppi, die langpad deur die Karoo in Desember spitstyd en ‘n nag in Newtown, Johannesburg (die clubbing is befok, Mam).

2013 begin en ons is in ekstase – die kind gaan terug PUK toe (eergister al) en alles is wel! Nuwe woonstel, nuwe yskas, daktuin en gordyne.  Ek gee al my geld uit op die deposito en huur en onthou dat ek geregtig is op verlede jaar se deposito terugkry – whoop whoop, money from home!  Ek stuur my vriendelike versoek per e-pos na die verhuringsagent.  En kry ‘n ongelooflike aaklige antwoord terug. En ek gaan nou nie die antwoord aanhaal nie, maar dit kom daarop neer die dekselse kind (my eufimisering…) het nooit geleer ‘n mens slaan nie 17 spykers in ‘n huurwoonstel in nie, veral nie om ‘n ding so feeble soos ‘n onbekende girlfriend se bandana op te hang nie, en die skade is groot en watse soort Ma is ek en so aan. Asem in 2 3 4 … Die skade moet herstel word, en word van die deposito afgetrek en sal nog ‘n ruk duur om af te handel en gaan lank neem om te fix en 8 9 10 gaan dit by my een Nurturing Parent-oor in en by die (dankie tog!) Rational Adult-oor anderkant uit.  Ek halstarig asem.  Ek het vergeet om my kind te leer ‘n mens slaan nie spykers in woonstelmure in nie.  Ek het tog my lewe lank in woonstelle gebly – hoe kon ek vergeet het? Die Adult kyk my in die oog en meen: jy was te vrek bang om enige iets te spyker, skies-dat-ek-leef-en-jy’s OK, I’m not Ok gaan dit by my Weeskind argetipe in en … kom by my Free Child anderkant uit – vloermoer julle almal…
Ek het my kind alles geleer wat in my voorbrein aangaan, ek het hom probeer leer om van tyd tot tyd dieper te delf in die gemoed in en saam te dans as musiek begin speel.  Hy weet mans mag ook huil, hy weet oorlog is verskriklik, maak eerder vrede, hy troetel siek diertjies en kyk weg as sy oë traan vir die bedelaar by die robot – hy wens hulle weg, nie oor hulle nie, maar oor sy hart so seer kry vir hulle…

Op die laaste aand sit ons 2 Adults, 19 en 48 jaar oud, saam voor die vuurtjie.  Blessed.   Hy drink ‘n bier, ek drink ‘n glasie natural sweet en klaar (ek spyker deesdae enige ding vas).  Ons is gemaklik, gemoedelik, opgewonde en reg vir Tweede Jaar.  Wat’s daai, vra hy, en wys met die black label botteltuit na ‘n funny trossie wat aan my koperpotjie hang.  Gits, nee, ek weet nie? Daar’s nog een, teen die houtbord uit Alette se huis, destyds nog in ‘Afrika’ gekoop. Ek staan op om van nader te gaan kyk –  ek ken elke ding in die braaikamer en dis die eerste keer dat ek hierdie sien.

Image

 

Dis rogtrossies uit ons tuin! 

Image

Ek vertel hom dat Patrick-die-tuinwerker dit seker vir  goodwill en vrede vir ons opgehang het.  Patrick het net nou die dag nog ewe trots vir my die rog in die tuin gewys en verduidelik dat as jy dit in jou tuin het (soos by sy village in Zimbabawe) you will always be healthy and strong…  Ek streel oor die bekende korreltjies (ons het ook met Mabella pap grootgeword) en gaan sit weer by die vuur. Toe ek sien my kind-Kaal se oë is nat van die mooigeit van die lewe, toe gee ek nie om of ek R3.00 terugkry vir my deposito van verlede jaar nie.

  • Kinders raak verslaaf, Pa’s word vermoor, ouers skei, broodwinners verloor hul werk, dogters kry borskanker, motorbande brand…

Sewentien spykers is way te min om die hele Lewe mee vas te spyker.  Ek sê sommer nou al koebaai vir my deposito aan die einde van die jaar en sluk my glas leeg.

La belle vita! – die lewe is, inderdaad, mooi genoeg om teen jou muur vas te spyker.

  Lees voort

Die Lewe is ‘n Koedoe-karkas

vautour-neophron

Kersdag sing ons Kom Herwaarts  Getroues.

Ek dring daarop aan, want dit laat my altyd traan: ek staar verwonderd na my Gebroeder wat spesiaal van PE af kom (5 jaar laas gesien), my liefste kind Kaal wat al die pad van Plett af ry om vir die eerste keer in  4 jaar kersfees by sy Ma te wees; my oom Johann, wat meestal in Budapest is, het ook gekom.  My Seisie en Bok is ook hier.  Voltallig, net my Pᾶppie wat uit die hemel  kyk en my storie inspireer…

Om ons almal te hoor sing, is nie eintlik ‘n prys werd nie, maar om ons almal te sien sing, dis waar die lekker lê. Ons sing asof ons die woorde ken, maar dis drie geslagte en twee vertalings later en die meeste van die tyd giggel ons terwyl ek die woorde met handgebare soos  in ‘n Pictionary game probeer demonstreer.  Oom Johann bid ‘n lieflike gebed en ek voel my genoop om ‘n storie te vertel  – ek kan kinders mos nie weerstaan nie.  Hulle sit in rye op die rusbanke en wag geduldig vir ‘n storie.  Daarna mag hulle die hope geskenke uitdeel en oopmaak!

Ons sit almal in die strandhuis se voorkamer: my Ma se hele nageslag.  ‘n Regte denneboom staan in die hoek, oorvol pragtige, selfgemaakte versierings en ook ou bekende porselein engeltjies wat jaarliks uit die kis opgediep word. My oë dwaal na die see, die fynbos, die berg – waar gaan my storie vandaan kom!  Ek kyk na die geliefde gesigte van my familie.  Ons is oues en langes en mooies en jonges en waardiges en slimmes en snaakses en gelowiges en gedienstiges en voorspelbares en transers en strewers, almal met liefde aan mekaar gebind – onafskeidbaar verbind – van geslag tot geslag.  Wanneer dan gaan ons besef hoe bevoorreg ons is om so vreeslik verskillend te wees?

“Het julle geweet, begin ek groot-oog, dat die lewe soos ‘n Koedoe-karkas is?”

Ek het dadelik Johannes se aandag, want hy jag graag saam met sy Pa.

“En ons is die aasvoëls wat daaraan moet vreet.”  Nou het ek ook Jana se aandag, want sy glo dat ons almal eintlik feetjies is. GJD loer vir my onderdeur sy lieflike lang hare – hy het ‘n Bybelstorie verwag, maar ek‘t nuus vir hom, ek gaan in elkgeval preek, al kom my storie nie hierdie keer uit die Bybel nie, maar uit Deon Meyer se Onsigbaar.

“Dis die monnikaasvoël wat eerste aan die karkas vreet”, vertel ek.  “Met sy klein skerp bek, moet hy die taai vel stukkend skeur.  Hy sluk dan ook vinnig ‘n paar repe vleis en vel af, voordat die wilde binnevreters opdaag en begin vreet”.

Wanneer die groot binnevreters , die kransaasvoëls, opdaag, is dit soos ‘n losgemaal, ‘n rumoerige partytjie, ‘n gestoei en ‘n gekras – hulle kan elkeen binne drie minute 1 kilogram vleis opvreet!

Terwyl die binnevreters klaarmaak, kom die koning van karkaste, die swartaasvoël, van ver af aangesweef op die lugstrome.  Hy is ‘n indrukwekkende voël en staan tot een meter hoog! Sy vlerkspan is 3 meter en hy is twee keer so groot soos die ander aasvoëls.  Hulle vlieg letterlik honderde kilometers ver deur die lug, en wanneer hulle opdaag, neem hulle behoorlik oor.  Maar, snaaksgenoeg, hulle vat nie die ander aasvoëls se kos nie.  Dis nie nodig nie, want sien, hulle is perfek aangepas om die taai senings te eet!  Hulle daag dus vol selfvertroue en optimisme by die lewe, die karkas, op. Is dit nie ongelooflik nie? Niks word gemors nie!  Hierdie ouens eet alles op!  Ek kan sien Strachen dink dis fantasties, en my Gebroeder is heel vebaas dat hulle nie die ander aasvoëls wegjaag en hul kos gryp nie – dit lyk vir hom maar altyd na ‘n stoeigeveg rondom die karkas.

“Dink julle die hele karkas is nou opgeëet?, vra ek die kleintjies.  Ja, skree almal gelyk – selfs die oues knik en stem in – dis dit, meen almal, die karkas is op.

“Ha. Wat van die bene!” vat ek hulle vas.   “Onthou, die natuur mors niks nie, alles word gebruik, alles word geniet en benodig, almal is welkom om te kom smul – nes elkeen van ons… (bring ek nou en dan die preek tussen-in).  Sheldin glimlag, want sy het nogals aan die bene gedink omdat Lilipit, die piepklein allerfraaiste toy-pom op haar skoot sit en altyd opsoek is na ‘n beentjie. 
Wanneer die karkas kaal geëet is en almal hul deel gehad het, staan die statige, goudkleurige baardaasvoël (ons ken hom ook as die lammergeier) sku nader.  Hierdie geduldige dier (daar kom daai Gaai ook nou in die prentjie) kom baie keer eerste op die karkas af waar hy dan senuweeagtig effens eenkant staan en die hele toneel fyn dophou.   Wanneer net die kaal bene oorbly, stap hy nader en sluk sommer die kleiner stukkies been heel in.  Die groter stukke vat hy stewig vas, vlieg hoog in die lug in en laat val dit op die klippe!  Hy duik dan af om heerlik aan die murg en beenstukkies te smul, tot daar niks meer van die koedoe oorbly nie.  Ek het nou skoon vir Seisie en Skoonste ook in trane van verwondering.

Ons is almal op een of ander stadium in ons lieflike, geseënde lewens, een of ander aasvoël.  Soms die monnikaasvoël – vreemd met ons lang hare, ons swart naels, ons funny klere en ons musieksmaak op die raaskas.  Ander kere is ons die kransaasvoël, die gepeupel – ons gryp en lag en vry en eet en speel en slaap en lees en lewe – niks bekommernisse, alles in groot maat en alles met oorgawe.  Partykeer het ons die monnik nodig om die vel oop te skeur, ander kere soek ons vir Swartaasvoël om die spul goed te kom opruim.  Wanneer ons voor keuses te staan kom, wanneer ons ongeduldig met die lewe is, dan het ons vir Lammergeier nodig.

Wanneer monnik ‘n tatoe op 42 oorweeg, kan Lammergeier maar eenkant staan en wag; wanneer binnevreter so luidrugtig is, wees maar die swartaasvoël en spits jou toe op dit wat jou interesseer.  En wanneer jy voel soos ‘n rand-eier, vreemd met jou spatare en jou aweregse lewensuitkyk, weet maar jy’s die asemrowende Lammergeier, wat nou-nou nou-nou die bene en murg gaan kry!

Ter wille van die kleintjies som ek die storie op:  alles van die lewe moet opgebruik, geniet en gedeel word.  Om dit te kan doen, moet ons soms kan aanpas, terwyl ons ander kere weer mekaar nodig het om die taai vel oop te skeur.

En net voor almal wil opspring vir bene-rek en presente (want ek het mos maar ‘n lang asem) gooi ek die dreigement aan die derde geslag: julle sal elke jaar Kom Herwaarts Getroues sing, maak nie saak waar julle is nie, as daai swartaasvoël honderde kilometers ver kan vlieg agter ‘n koedoe-karkas aan, kan ons ook duisende myle ver reis agter die Lewe aan.

Die Monnikaasvoël het ‘n klein, vlymskerp bek om die karkas oop te skeur – hy sluk dan vinnig stukkies vleis en vel in voordat die kransaasvoëls opdaag. Hulle het lang, kaal nekke om diep binne-in die karkas te kan vreet en grawe.

 

Wanneer die binnekant leeggevreet is, kom die indrukwekkende  swartaasvoël om die taai stukke vel en al die senings op te vreet.

 

Kransaasvoël

Swartaasvoël

Hoewel die Lammergeier dikwels eerste op die karkas afkom, staan hy geduldig eenkant en kyk hoe die res die lewe geniet.  Daarna ruim hy die bene op… dit is sy spesialiteit.

Baardaasvoël

 
Die lewe is ‘nkoedoe-karkas en ‘n mens kan dit nie alleen opeet nie.