Jou Juwele, my Prinses

Die wynrooi eetkamer, wat net tydens Kersetes met meer as 12 mense (lees: nooit) gebruik word, is ongelooflik vol en deurmekaar. Maar ook uiters kosbaar en behoort apart van die res van die huis verseker te word. Op die reuse eettafel staan al my sentiment wat sorteer moet word: ou fotos, nuwe fotos, glaspotjies uit Alet se huis, Bersie (wat ek uit die motbolle gered het om in Carl se memory-box te sit), Pa se hout ietermagog en al die prente van die seuns (4 – 12 jaar oud) wat ek in die ou verbleikte prente se rame wil sit… Op die vloer staan die groot TV wat herstel moet word, die dvd masjien met die stukkende open/close knoppie en bokse vol ornamente wat ek dink geldwaarde (dis oud en skaars) maar min sentimentele waarde het – waarheen met hulle? Langs die kant, bo-op die glasbad net onder die reuse skilderye van ene Doug Gray, staan die nuwe ketel, shooter-glase en messestel vir Carl se woonstel – in daardie hoekie pak ons alles wat Potch toe moet gaan volgende jaar (vandaar die shooter glase uit Kobus se kroegkas). Agter, weggesteek maar ewe belangrik, staan al die boeke en baksels&twaksels wat Ma gekies het voordat ek dit herwin. Ek moet dit nog in die Kaap kry voor Kersfees (hierdie jaar se Kersfees…).
Hoekom deel ek hierdie oënskynlike sinnelose deurmekaarheid met julle? Dis maar simbolies van die chaos wat hierdie tyd van die jaar in my kop is – alles wat afgehandel moet word, voel ewe belangrik, ek kry nie my prioriteitslys agtermekaar nie. Alles wat voltooi moet word is ewe agterstallig (lisensies hernu, werkerskontrakte opdateer en skoolgeld begroot). Dis net mooi die tyd wat die meeste ou gelowe een of ander oorgangsfees vier (hetsy dit lente of herfs word in jou halfrond). Dis ook wanneer Piet-my-Vrou en paradysvliëevanger terugkom tuin toe – en hierdie jaar was hulle vroeg, omdat dit so warm is. Nietemin, dis dan wanneer ek diep gaan grawe vir daardie soort kalmte wat net jy-self oor jou-self kan bring. Sommige van ons gaan dan kerk toe vir stiltyd en krag-kry, sommige van ons vat die N1Suid op die motorfiets, sommige van ons gaan dokter toe vir kalmeerpille, sommige van ons vat die verkyker en kyk na die tuinvoëls (hier reg voor my sit duif, vink en Kwêvoël op dieselfde takkie en wag vir pitjies) . Gewoonlik gaan ek na ou sêgoed, cliches, gebede of woorde wat ek onthou van mense vir wie ek lief is. As dit huis skoonmaak is, dink ek aan die osse: geduldig, gedienstig, gedwëe; as dit politiek is, dink ek aan Pa se woorde: jy kan nie poep teen donderweer nie (maar Ma meen poep is common, en ek gaan nooit regtig na daai gedagte toe nie, al vind ek dit baie beskrywend van ‘n onmoontlike situasie), wanneer ek vir die honderdste keer moet keer dat die een met die ander een raas omdat die badkamerlig aan is: geduld, o geduld, wat so baie kan dra… Wanneer ek nog dieper moet gryp, reeds diep asem gehaal het, klaar my chakras gesentreer en klaar lank na my vrede-op-aarde foto gestaar het vir inspirasie maar steeds nie die klem in my kaak kan loskry nie, dan dink ek aan Paul se woorde: ‘Jou juwele, my Prinses”. Ek steek dan selfs so half my hand uit om die woord en daad bymekaar te bring. Daardie dink-en-doen aksie gee vir my eindelose geduld, gedienstigheid, weerlose aanvaarding van die onafwendbare, ‘n gelatenheid: Que sera, sera. Ek kan dan so half sien dat dit gáán gebeur en dat dit gaan goed wees (soos die skeppingsverhaal). Ons was in Botswana, die Strewer en Paul voor in die viertrekvoertuig, ek en Amber in die middel en die 2 vyf-jariges agter in. Hulle het elke denkbare besighou-ding by hulle: soldate, boeke, lego, verkykers, padkos, kussing en kombesie, ALLES. Maar hulle stry en redekawel en veg: ‘daar’s ‘n koedoe’ sal ek sê. Ebony aan Ivory: Ek het hom voor jou gesien. Ivory: ek het hom lankal gesien. Ebony: Is nie – Is – Is nie, Is. So ry ons deur die hele Chobe wildtuin. Ek geniet natuurlik die gestry – dis nie my seuns nie, sien. Maar soos ons almal weet, eindig dit gewoonlik in trane of ‘n bekgeveg. Amber maak kort-kort vrede. Dan maak sy stil. Dan maak sy haar stem dik, dan, skielik, stop Paul die motor. Hulle het nou te ver gegaan en gaan nou pakslae kry… Hy’t dit seker in Amber se stem gehoor, want ek dog hy stop vir ‘n duiker of ‘n ding. Ek’s effens verbaas, maar dis steeds ‘n maklike verbaas, dis immers ook nie my reëls nie. Amber klim uit. Uit! sê sy streng vir die 2. Hulle klim agter uit. Amber stap aan my kant verby, voor om die voertuig, by Paul se venster verby. Sy’s siedend.
Jou juwele, my Prinses.
Dis Paul se kalm en alwetende stem. Die mannetjies gaan nou die plathand kry, en vorige kere het die krale en armbande gewaai. Paul hou sy bakhand by die venster uit, Amber ryg al haar juwele af en plaas dit in sy hand. Ons is op ‘n sandbank binne-in die brëe en pragtige Chobe rivier. Oorkant, nie te ver van ons, is ‘n reuse trop buffels, om ons is die wonderlike Afrika veld. Ek kyk grond toe vir spore. Soek drolletjies en miertjies – hou eintlik net my kop besig.
Ek hoor Amber se stem: af met julle broeke! Ek hoor Ivory kerm: net nie kaalboude nie! Maar Amber het haar hart verhard soos Farao s’n: uit met die broeke! Weer Ivory: Net nie voor die buffels nie! (ek glimlag – never, ever give up). Slat-slat-slat. Oor en verby. Almal klim terug in die voert in, min trane en baie stilte. En ek verstaan daardie gelate gebaar van Paul: jou juwele my prinses. What will be will be; en God het gesien dat dit goed was; geduldig gedienstig, gedwëe… Ek moet gaan orde kry, die vraestelle het ingekom en daar is nêrens plek om dit uit te pak op die groot eettafel nie; die jaar loop uit en Alet se stuff staan steeds in hopies rond; die Ongeduldige Een het al met sy eksamens begin en sy memory boks is nog leeg…

3 Responses to Jou Juwele, my Prinses

  1. Ek wou eintlik ‘n foto hiervan sien…

  2. Dis nie ‘n grap om langs die pad, op reis, pak te kry nie. Ek en my suster het een keer so baklei oppad Transvaal toe (van die Kaap af) oor die hoenderboudjies in die padkos (ja ja, lag maar) dat my pa gestop het en ‘n lat van ‘n boom afgepluk het en ons goed geneuk het. Ek is vandag nog getraumatiseer ;-) (En nie een van ons het toe ‘n hoenderboudjie gekry nie – vir ons straf!)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s