In ons huis mag ons nie dagga rook nie.

‘n Mens se herinneringe is mos maar moeilik om te deel, behalwe as ‘n mens ‘n dik boek sou skryf of ‘n film sou maak, of moontlik fotos wys of ‘n prent skilder.  My herinneringe is altyd lekker, maak nie saak dat die tyd / gebeurtenis / gevolge dalk sleg was nie.  Toe ek sit en vertel van die kougoed, onthou ek die dagga storie.  He he, lag nou nog lekker oor hoe ons kinders ons in ‘n verleentheid kan bring (uit die mond van die suigeling).  Carl was 6 en in Graad 1.  Weens die omstandighede (sien ‘lekker’ herinneringe) was ons lewe klein, eenvoudig, sonder groot insette van die wêreld af.  Carl het dit maklik gehad: hy het kaalvoet skooltoe gegaan en hoef dus nog nie vir Juffrou te beïndruk deur te wys hoe hy al sy eie veters vasmaak nie.  Ons het nie ‘n telefoon of selfoon gehad nie, dus hoef hy ook nie te spog met ‘n nommer wat hy kan onthou nie.  Ons was van geen vaste adres nie, dus as jy hom sou vra waar hy woon, dan sê hy ‘by my Mam, Juffrou’.  en so voorts.  En my naam was ook Mam – ons het te min uitgegaan en kontak gehad dat hy kon hoor mense spreek my as Gardiol aan!   Ek onthou dat Carl al 7 jaar oud was toe ek vir die eerste keer met hom op die telefoon gepraat het – van Pretoria af (dankie Tannie Guy) na SkoonMa in Bloemfontien gebel (hy het saam met sy Pa gaan kuier).  Toe ek sy stem oor die telefoon hoor, huil ek so, ek moes eers neersit en maak asof die lyn afgesny is.  Diep asemgehaal en weer gebel – ‘n heerlike herinnering!  Nietemin, terug na die dagga.  By die skool moes hulle die tien gebooie maak.  ‘n Oulike papirusrol op twee stokkies opgerol.  Binne-in moes hulle huisreëls neerskryf.  Nou ja, julle ken my al, ek het een reël en dit is jy mag nie iemand anders seermaak nie (dis toe Carl 5 was), nou vertaal dit as ‘doen aan ander…’  Daardie Dinsdag roep Juffrou my nader en wys my sy reëls – Mevrou, sê sy, moenie bekommer nie, ons verstaan…  En daar staan dit. Verewig op Carl se papirusrol:

In ons huis mag ons nie dagga rook nie. 

Dit was ook sy enigste reël. Die res van die rol is vol geteken met honde en daggablare en you name it, dit lyk na ‘n orgie, maak nie saak hóé jy daarna kyk nie.  Ek kyk in Mevrou de Jongh se sagte oë en dink: ek beter aan hierdie goeie vrou verduidelik dat ek ‘n goeie mens is.  Maar hoe?  Wat?  In ons huis het ons nie gerook nie (nie daarvan gehou nie), nie gedrink nie (te arm), toe nog nooit (regtig!) eens die woord dagga gebruik nie, was nog gladnie nodig nie.  Ek weet nie, Mevrou, skud ek my kop.  Later vra ek terloops vir Carl watse reëls ons in ons huis het.  Hy noem dadelik – ek mag nie iemand seermaak nie.  En o ja, ek mag nie ‘n bal in die huis skop nie, brei hy uit.  Dis al. Kondig hy aan.  En ek wil nie te veel karring nie.  Toe hy aan die einde van die maand sy prente en projekte huistoe bring, vra ek om uit oor alles (die ark wat lyk soos ‘n bosluis, die uil wat sy selfportret is, die herfsboom met net een reuse blaar op geplak – Carl die slim-lui een  : ) En die tien gebooie.  Watse honde is dit die, vra ek (ons het net een piepklein worshond en hierdie honde lyk groot en kwaai, die ene spoeg en tande). Dis polisiehonde, vertel hy my.  As jy dagga rook, dan ruik hulle jou en dan vat die polisie jou tronk toe.  Vertel hy en hol buitentoe om te gaan bal skop.  In ons huis mag ons nie dagga rook nie is meer indrukwekkend as ‘in ons huis mag jy mag nie bal skop nie’… En ons het vergeet watter impak dit op kinders het as die polisie die skool besoek en van hul goeie werk vertel, soos om honde te gebruik om dagga uit te snuffel.  Selfs Mevrou de Jongh het haar kop geskud – ons moes geweet het dat die Brandweer en polisie se besoek aan die skool die week voordat die kinders die reëls moes skryf,  so ‘n deeglike indruk op Carl sou maak, want in ons huis was net een reël, en dit was heeltemal te lame om op ‘n papirusrol te skryf…

6 responses to “In ons huis mag ons nie dagga rook nie.

  1. Lekker gelees! Paulu gaan hierdie een geniet.

  2. Ek het nou SO lekker gelag! In Sub A kom Bernard eendag huis toe en sê die juffrou sê sy hare is te lank (hy het ‘n ontembare krulkop). Ek is alleen ouer en die geld is min en dit was ‘n moelike dag. Ek mompel toe my geliefkoosde sêding: “Ag man, die juffrou kan gaan bliksems pluk.”

    Die volgende dag kom hy huis toe, hoogs ontsteld en sê hy het vir die juffrou gesê wat het ek gesê, maar sy glo glad nie dat sy ma so iets leliks sou sê nie en sy mond gaan uitgewas word as hy weer so lelik praat. Tot my skande moet ek sê dat ek die juffrou maar laat glo het wat sy glo en NOOIT weer gepraat het voor ek nie gedink het waar klein ore naby was nie.

    • Waar sou ‘n bliksems groei, wonder ek lekker – seker in die harde wêreld rondom Kenhardt, of hoog in die kranse van die Drakensberge – sou graag ‘n bossie bliksems vir jy weet wie wil stuur 🙂

  3. Terug pieng: Kersie oppi koek « Kouevuur

  4. Ek het vir jou iets gelos op my blog. Kom lees daar asseblief 🙂

  5. Kry jou link by Son(An)ne-marie… het nou so lekker gelag – sal beslis weer inloer!

Lewer kommentaar