Die robot het te vinnig na groen verander, anders sou ek gou vir julle ‘n foto kon neem.
Op die sypaadjie, links op die hoek, sit ‘n jong man teen die groen elektrisiteitsboks. Voor hom, op ‘n kwart stukkie baksteen wat regop staangemaak is, is ‘n plastiek skinkbordjie, so groot soos ‘n A4 papier. Binne-in dit, netjies soos regop speelgoedsoldaatjies, staan sy goedjies. Lossies (enkel sigarette), klein pakkies nik-naks, 6 hard gekookte eiers, ‘n paar vetkoeke 3-3 in klein toebroodjie sakkies vasgebind en ‘n flora bakkie met suigstokkies wat soos alien-ogies uitsteek. Dit lyk of hy in die sonnetjie slaap, maar net voor ek wegtrek, sien ek hy hou eintlik sy ware fyn dop.
Maar ek traan toe alweer so, ek kan amper nie betyds uit die slegs links baan draai om reguit na die stop straat aan te ry nie. My kop het nou eers weer na beginne gaan kyk.
In die begin het God die hemel en die aarde gemaak. As jy Pepkor se Christo Wiese, Koningin Elizabeth, Nelson Mandela, my Freundin of my eie beskeie lewensverhaal agter-uit lees, sou jy gou agterkom dat die begin en die end ligjare uitmekaar is. Ek meen nie verniet nog altyd: if you don’t know where you’re going, any road wil take you there… hehehe, want nie een van hulle (en ek!) sou ooit kon dink…
Natuurlik as ek eers met ‘n begin begin lol, moet die storie noodwendig lank wees. Ek is egter onder druk vanoggend want die werkopdragte lê en wag (gesëende, gelukkige ek!).
Die klein-begin op die straathoek het my in ‘n melankoliese gemoedstemming gedompel en ek kom met ‘n hele boks vol amandel croissante by Ry-ma-In* aan. Dis kuiertyd by Cilia en ek kry haar in haar Lazy-boy, sy staan nie op as dit nat en koud is buite nie. So ‘n paar minute later kom Marie-Henning ook in. Ons gesels net goeie goed, want ons het min ander goed in gemeen. Cilia vertel ons van die veranderinge aan die huiskomitee en hoe dit haar en Hercie (die uittredende voorsitter) se vriendskap hegter gemaak het. Hulle 2 ken mekaar van kindsbeen af en is ook van die inwoners wat al dertig jaarby Ry-Ma-In is.
Na omtrent nege minute se nuus uitruil, is daar nog ‘n klop aan die deur. Hercie kom in, vir die eeste keer in die 4 jaar wat ek Cilia ken, kom Hercie as vriendin daar in… ek skuif die skinkbordtafeltjie flink eenkant toe dat haar rolstoel kan reguit staan, gaan sit weer op die bed se punt en wonder waaroor gaan ons nou gesels. Tussen die 4 van ons het ons niks in gemeen nie. Wag, darem dit: ons is Afrikaans, vroue, wit en oud. Dis so half dit. Cilia en Hercie in rolstele, ek en Marie-Henning vroue wat weekliks (afsonderlik eintlik) by Cilia inloer en mekaar soms in die gang raakloop. Ek weet nie eens wat haar van is nie. Sy dra nie ‘n ring aan haar trou-vinger nie, ek weet nie of sy geskei, ‘n weduwee of wat is nie. Ek soek vervaard na raakpunte. Niks.
Jip, dis dit. Vier wit Afrikaanse vroue.
Maar my introversie ten spyt, laat ek mos nie ‘n paartie op my watch doodloop nie en ek gaan aan die praat. Eers dek ons die blinknuwe Afriforum baadjiespeld wat Cilia met trots dra, toe Solidariteit en die Gift of the Givers se hulp aan die mynwerkers, en toe, met ‘n wye draai, hoor ek die Herfstee vir Mei-maand is gekanselleer (alles weens die hostile take-over by die Huis). Ek kyk onderlangs na Hercie se reaksie (sy rëel hierdie tee met groot sukses al vir jare en jare lank, saam met die minlike Carike Keuzenkamp). Hercie lig haar dikglasbril en vee haar oë droog. Sy het die Tee gestop, sê sy, want haar hart is seer oor die verandering en sy meen die Tee was harde werk, waaruit sy nou geen lekkerte meer gaan kry nie. Ek sukkel om haar oë te sien, maar ek sien skielik sy kyk my stip aan. Gits, moet ek nog iets sê? wonder ek. Ewe berader-like hou ek my mond vir 30 sekondes. Hercie haal diep asem en sê: ek sou graag paaseiers wou uitdeel. Ek sukkel om Afriforum, Herfstee en paaseiers bymekaar te kry en bly vir nog 30 sekondes lank stil. Cilia en Marie-Henning kyk nou ook met afwagting na my. Of voel dit net so?
Gits, dink ek weer – moet ek nou praat of forever hold my peace? Maar ek het geen idee waaroor om te praat nie. Wat om te sê nie. Ek vryf vir Miesiesie (haar naam is eintlik Sheila, die blinde piepklein-van-ouderdom pikswart katjie op Cilia se skoot).
Wat sê jy Miesiesie? vra ek simpel. Dis Hercie wat moed bymekaar skraap en antwoord: as iemand net vir my die strikkies kan knoop… Ek kyk na haar. Sy is ‘n bekwame organiseerder, ‘n gewilde invwoner, ‘n intelligente vrou met ‘n meestersgraad agter haar naam.
Ek kan strikkies knoop. Ja, val Marie-Henning ook in, sy kan ook. Wanneer, vra ek; ek gaan see toe vir twee weke… Wat van Woensdag die 4e vra Hercie. Ek is vas, Cilia gaan Cresta toe maar Marie-Henning is beskikbaar. Ek vryf vir Miesiesie. Ek voel hoe Hercie nog steeds vir my kyk. My voorbrein hol ver vooruit – sirkels oral om te probeer vasstel wat nou eintlik hier aan die gang is. Knal! Hercie ly aan lëenessindroom, noudat sy nie meer die wel-en-wëe van die Huis hoef te rëel en te bestuur nie.
Hercie was vir jare en jare deel van die een of ander groep, organisasie, dienslewering of vereniging. En die feit dat sy hier sit, in Cilia se kamer, is omdat daardie rol nou weggeval het, en sy wat Hercie is, kannie sonder ‘n funksie funksioneer nie.
Ek het baie paaseiers. Ons kort net sakkies, en iemand om die strikkies te knoop, herhaal sy.
Ek kyk Hercie reguit in die oë, plankgegesig, die ene erns: Miesiesie sê ons sal ‘n organisasie moet stig.
Marie-Henning frons onseker maar Cilia sit dadelik vooroor: maar wat sal ons onsself noem, wil sy in alle erns weet? Wat van die 4 Muskutiers, waag Marie-Henning dit – sy is steed nie seker wat hier aan die gebeur is nie. Wat, die muskiete? Cilia konsentreer nie, haar suurstof raak min. Hercie val in, ons is nie misskiete nie, eerder raakskiete. Ek en sy SKATER van die lag. Ons oë traan en sy gly byna uit haar stoel, want sy raak effens spasties as sy opgewonde raak. Cilia voeg daad by die woord en vou haar vuisie oor myne: ek is in, sê sy. Ek ook, ek is net nie voorskieter nie. Marie-Henning glimlag ordentlik maar sê steeds niks. Hercie sê sy sal ‘n misie skryf. Ek sê ons kort ‘n visie, ‘n misie en ‘n konstitusie. Miesiesie se blinde ogies knip goedkeurend. En, voeg ek dapper by, ons kom een keer per maand bymekaar en rëel iets.
En ons het in ons misie gefaal as ons nie geskaterlag het nie, lig Hercie haar geleerde mening. Ek sê ek’s in, en ons tel die mense in die huis: 10 werkers en 12 inwoners – ek sal 25 sakkies ook bring vir die paaseiers, en ek tik vaardig ‘n reminder op my selfoon.
Ons is ‘n eksklusiewe organisasie, vra Cilia, sy beskerm haar vriendskappe al jare en sy wil hê Hercie moet weet dis nie sommer oop vir almal nie, hierdie gekuier op ‘n Vrydagoggend. ‘n Geheime, eksklusiewe organisasie be-aam ek – Hercie se oë blink en sy vertel my die grapppie van die skroef wat te diep ingeskroef is en nou die moer in is. Ek piepie byna soos wat ek lag, en Cilia vee met Miesiesie se stert die druppels trane wat op haar hand geval het af.
Miesiesie het veto reg op al ons besluite, sê ek. Natuurlik stem Cilia in en Hercie knik. Kan ek die konstitusie optik, ek skryf nie so maklik nie, sê sy. Ek sê natuurlik, maak net ‘n spasie onderaan vir Miesiesie se pootjie. Ek staan op om te loop, na 10 is dit eintlik Marie-Henning en Cilia se Bybelllees tyd.
Die Raakskiete vergader op 10 April om 10 uur om paaseiers voor te berei, kondig ek in my hoofmeisie stem aan.
Marie-Henning: is julle nou ernstig?
Hercie kyk haar streng aan, tot dit in die arme, maar gewillige Marie-Henning se oerbrein ook knal.
Die klein knal, soos wat alle groot goed mos maar begin…
*Ry-Ma-In Huis vir kwadrupliëe




