Die Klein Knal

Die robot het te vinnig na groen verander, anders sou ek gou vir julle ‘n foto kon neem.

Op die sypaadjie, links op die hoek, sit ‘n jong man teen die groen elektrisiteitsboks.  Voor hom, op ‘n kwart stukkie baksteen wat regop staangemaak is, is ‘n plastiek skinkbordjie, so groot soos ‘n A4 papier. Binne-in dit, netjies soos regop speelgoedsoldaatjies, staan sy goedjies.  Lossies (enkel sigarette), klein pakkies nik-naks, 6 hard gekookte eiers,  ‘n paar vetkoeke 3-3 in klein toebroodjie sakkies vasgebind en ‘n flora bakkie met suigstokkies wat soos alien-ogies uitsteek.  Dit lyk of hy in die sonnetjie slaap, maar net voor ek wegtrek, sien ek hy hou eintlik sy ware fyn dop.

Maar ek traan toe alweer so, ek kan amper nie betyds uit die slegs links baan draai om reguit na die stop straat aan te ry nie.  My kop het nou eers weer na beginne gaan kyk.

In die begin het God die hemel en die aarde gemaak.    As jy Pepkor se Christo Wiese, Koningin Elizabeth, Nelson Mandela, my Freundin of my eie beskeie lewensverhaal agter-uit lees, sou jy gou agterkom dat die begin en die end ligjare uitmekaar is.  Ek meen nie verniet nog altyd: if you don’t know where you’re going, any road wil take you there… hehehe,  want nie een van hulle (en ek!) sou ooit kon dink…

Natuurlik as ek eers met ‘n begin begin lol, moet die storie noodwendig lank wees.  Ek is egter onder druk vanoggend want die werkopdragte lê en wag (gesëende, gelukkige ek!).

Die klein-begin op die straathoek het my in ‘n melankoliese  gemoedstemming gedompel en ek kom met ‘n hele boks vol amandel croissante by Ry-ma-In*  aan.  Dis kuiertyd by Cilia en ek kry haar in haar Lazy-boy, sy staan nie op as dit nat en koud is buite nie.  So ‘n paar minute later kom Marie-Henning ook in.  Ons gesels net goeie goed, want ons het min ander goed in gemeen.  Cilia vertel ons van die veranderinge aan die huiskomitee en hoe dit haar en Hercie (die uittredende voorsitter) se vriendskap hegter gemaak het. Hulle 2 ken mekaar van kindsbeen af en is ook van die inwoners wat al dertig jaarby Ry-Ma-In is.

Na omtrent nege minute se nuus uitruil, is daar nog ‘n klop aan die deur.  Hercie kom in, vir die eeste keer in die 4 jaar wat ek Cilia ken, kom Hercie as vriendin daar in… ek skuif die skinkbordtafeltjie flink eenkant toe dat haar rolstoel kan reguit staan, gaan sit weer op die bed se punt en wonder waaroor gaan ons nou gesels. Tussen die 4 van ons het ons niks in gemeen nie.  Wag, darem dit: ons is Afrikaans, vroue, wit en oud.  Dis so half dit.  Cilia en Hercie in rolstele, ek en Marie-Henning vroue wat weekliks (afsonderlik eintlik) by Cilia  inloer en mekaar soms in die gang raakloop.  Ek weet nie eens wat haar van is nie. Sy dra nie ‘n ring aan haar trou-vinger nie, ek weet nie of sy geskei, ‘n weduwee of wat is nie.  Ek soek vervaard na raakpunte.  Niks.

Jip, dis dit. Vier wit Afrikaanse vroue.

Maar my introversie ten spyt, laat ek mos nie ‘n paartie op my watch doodloop nie en ek gaan aan die praat.  Eers dek ons die blinknuwe Afriforum baadjiespeld wat Cilia met trots dra, toe Solidariteit en die Gift of the Givers se hulp aan die mynwerkers, en toe, met ‘n wye draai,  hoor ek die Herfstee vir Mei-maand is gekanselleer (alles weens die hostile take-over by die Huis).  Ek kyk onderlangs na Hercie se reaksie (sy rëel hierdie tee met groot sukses al vir jare en jare lank, saam met die minlike Carike Keuzenkamp).  Hercie lig haar dikglasbril en vee haar oë droog.  Sy het die Tee gestop, sê sy, want haar hart is seer oor die verandering en sy meen die Tee was harde werk, waaruit sy nou geen lekkerte meer gaan kry nie.  Ek sukkel om haar oë te sien, maar ek sien skielik sy kyk my stip aan.  Gits, moet ek nog iets sê? wonder ek.  Ewe berader-like hou ek my mond vir 30 sekondes.  Hercie haal diep asem en sê: ek sou graag paaseiers wou uitdeel.  Ek sukkel om Afriforum, Herfstee en paaseiers bymekaar te kry en bly vir nog 30 sekondes lank stil.  Cilia en Marie-Henning kyk nou ook met afwagting na my.  Of voel dit net so?

Gits, dink ek weer – moet ek nou praat of forever hold my peace?  Maar ek het geen idee waaroor om te praat nie.  Wat om te sê nie.  Ek vryf vir Miesiesie (haar naam is eintlik Sheila, die blinde piepklein-van-ouderdom pikswart katjie op Cilia se skoot).

Wat sê jy Miesiesie?  vra ek simpel.  Dis Hercie wat moed bymekaar skraap en antwoord: as iemand net vir my die strikkies kan knoop… Ek kyk na haar.  Sy is ‘n bekwame organiseerder, ‘n gewilde invwoner, ‘n intelligente vrou met ‘n meestersgraad agter haar naam.

Ek kan strikkies knoop.  Ja, val Marie-Henning ook in, sy kan ook.   Wanneer, vra ek; ek gaan see toe vir twee weke…  Wat van Woensdag die 4e vra Hercie.  Ek is vas, Cilia gaan Cresta toe maar Marie-Henning is beskikbaar.  Ek vryf vir Miesiesie.  Ek voel hoe Hercie nog steeds vir my kyk.  My voorbrein hol ver vooruit – sirkels oral om te probeer vasstel wat nou eintlik hier aan die gang is.  Knal! Hercie ly aan lëenessindroom, noudat sy nie meer die wel-en-wëe van die Huis hoef te rëel en te bestuur nie.

Hercie was vir jare en jare deel van die een of ander groep, organisasie, dienslewering of vereniging.  En die feit dat sy hier sit, in Cilia se kamer, is omdat daardie rol nou weggeval het, en sy wat Hercie is, kannie sonder ‘n funksie funksioneer nie.

Ek het baie paaseiers.  Ons kort net sakkies, en iemand om die strikkies te knoop, herhaal sy.

Ek kyk Hercie reguit in die oë, plankgegesig, die ene erns: Miesiesie sê ons sal ‘n organisasie moet stig.

Marie-Henning frons onseker maar Cilia sit dadelik vooroor: maar wat sal ons onsself noem, wil sy in alle erns weet?  Wat van die 4 Muskutiers, waag Marie-Henning dit – sy is steed nie seker wat hier aan die gebeur is nie.  Wat, die muskiete? Cilia konsentreer nie, haar suurstof raak min.  Hercie val in, ons is nie misskiete nie, eerder raakskiete.  Ek en sy SKATER van die lag.  Ons oë traan en sy gly byna uit haar stoel, want sy raak effens spasties as sy opgewonde raak.  Cilia voeg daad by die woord en vou haar vuisie oor myne: ek is in, sê sy.  Ek ook, ek is net nie voorskieter nie.  Marie-Henning glimlag ordentlik maar sê steeds niks.  Hercie sê sy sal ‘n misie skryf.  Ek sê ons kort ‘n visie, ‘n misie en ‘n konstitusie.  Miesiesie se blinde ogies knip goedkeurend.  En, voeg ek dapper by, ons kom een keer per maand bymekaar en rëel iets.

En ons het in ons misie gefaal as ons nie geskaterlag het nie, lig Hercie haar geleerde mening.  Ek sê ek’s in, en ons tel die mense in die huis: 10 werkers en 12 inwoners – ek sal 25 sakkies ook bring vir die paaseiers, en ek tik vaardig ‘n reminder op my selfoon.

Ons is ‘n eksklusiewe organisasie, vra Cilia, sy beskerm haar vriendskappe al jare en sy wil hê Hercie moet weet dis nie sommer oop vir almal nie, hierdie gekuier op ‘n Vrydagoggend.  ‘n Geheime, eksklusiewe organisasie be-aam ek – Hercie se oë blink en sy vertel my die grapppie van die skroef wat te diep ingeskroef is en nou die moer in is.  Ek piepie byna soos wat ek lag, en Cilia vee met Miesiesie se stert die druppels trane wat op haar hand geval het af.

Miesiesie het veto reg op al ons besluite, sê ek.  Natuurlik stem Cilia in en Hercie knik.  Kan ek die konstitusie optik, ek skryf nie so maklik nie, sê sy.  Ek sê natuurlik, maak net ‘n spasie onderaan vir Miesiesie se pootjie.  Ek staan op om te loop, na 10 is dit eintlik Marie-Henning  en Cilia se Bybelllees tyd.

Die Raakskiete vergader op 10 April om 10 uur om paaseiers voor te berei, kondig ek in my hoofmeisie stem aan.

Marie-Henning: is julle nou ernstig?

Hercie kyk haar streng aan, tot dit in die arme, maar gewillige Marie-Henning se oerbrein ook knal.

Die klein knal, soos wat alle groot goed mos maar begin…

*Ry-Ma-In Huis vir kwadrupliëe

Voordeel ontvanger!

Arme ek.  Ek is die ge-skipte generasie…

So huil my hartjie toe ek Woensdagoggend met ‘n ou Fox grafiet raket op die Linden tennisbaan aanmeld vir ‘n vriendskaplike wedstryd.

In die netjiese klubhuis staan nog drie ander middeljarige Ma’s ewe gedwëe en wag op instruksies. Eers vergelyk ons effens verlëe ons wit beentjies en tosselkousies; toe verduidelik ons verskonend dat ons meer as 33 jaar laas tennis gespeel het.  Karen nog so ewe op hierdie einste bane as Lindeniet. Desiré het haar houtraamraket saamgebring – eers dog ek sy maak ‘n grap – toe slat sy my met ‘n kishou byna van die baan af so lekker speel sy met daai antieke spaan!

Nietemin…

My Ma speel ‘n barshou tennis en was, tot en met haar heupvervanging, elke jaar die tennisklubkampioen.  Van die mooiste aksie fotos wat ek van my Kind Kaal* het, is tennis fotos. Die Goeie Eks en sy sussies het destyds teen Amanda Coetzer geoefen.  Ek, egter, het in 1978 teen Rene Uys handdoek ingegooi en nooit weer tennis gespeel nie.  Natuurlik wil-wil ek verontwaardig voel vanoggend toe ek stywe-been en ronde-boud op die tennisbaan stap en skaam-skaam my posisie gaan inneem om die eerste afslaan te ontvang.

Ek is ge-skip, huil my ou hartjie: almal in my familie is lank en kan tennis speel…

Dat ek ‘n woord soos ge-skip enigsins kan gebruik, optik, uit my mond kan laat kom, is te dankie aan die Y-generasie. Yolande Vi$$er sing ewe gemaklik op internasionale TV: Dink jy ek’s van goud ge-make…

Dis nou wel nie te sê dat as sy kan, kan ek nie.  Maar dit het my tog laat dink: ge-skipte generasie?

Ek is lui om die feite te Google, maar ons weet tog dat sekere vaardighede en voorkoms so deur ‘n familie se bloed loop.  Díe een aard na Oom Dawie en daai een lyk op ‘n haar na soos Klein-oumatjie.

Toe ek weer (tevergeefs) probeer om ‘n barshou terug te slaan, kry ek myself so jammer dat ek summier begin om alles te lys wat van my Ma en my Pa bo-oor my kop (weliswaar dwarsdeur my lyf!) by my kinders uitgekom en my ge-skip het:

-          natuurlik, heel bo-aan die lys: die lang Lückhoff lyf!  My sibbe is lank, my newe en niggies is lank, my kinders is lank.  En ek – ek is gekurf he he he, as jy my soos ‘n dunderm sou uitstrek, is ek seker ook lank, maar soos die kraai sou vlieg, van kop tot toon, word ek in voete gemeet, nie in meters nie hehehe

-          tweedens het ek nie… uhm, ek is nie, ag, ek kan nie – liewe genade – dit was ‘n goeie hou! Ek kan nogals vrek hard slaan, ek slaan net nie so mooi nie…

‘Voordeel ontvanger’, tel ek outomaties hardop, asof daar nie dekades verloop het tussen my en my tennisoefening op skool nie.  Ek sien hoe Desiré glimlag, Karen kop knik en Madelein reg staan vir die volgende afslaan.  Om behoorlik telling te hou, om jou bes te probeer, om vir liefdadigheid dertig jaar later tennis te speel, dis ons daai…

Ons stuur balle grond-langs aan, ons skud blad as ons wen, ons sê dankie vir ‘n kompliment, ons bedien koek-en-tee na die tyd op mooi bont tafeldoekies – wat wou Geskipte generasie! Ons is die Gehoorsame generasie; die Goeie generasie; die Geduldige generasie; die Gematigde generasie… Ek is van die Gee-generasie wat maklik uitdeel, wat ‘n klein rukkie stilstaan onder groot statige bome. Ons hou daarvan om heuningkoek te kou totdat net die wasballetjie oorbly.   Ons waardeer skoon strate, swaar gordyne, houtkaste en betroubare motors.  Ons is sentimenteel en bêre ons kinders se beertjies en ‘bersies.  Ons het sagte harte en rëel konserte, bak koeke en verkoop dit, hou ou mense se hande vas terwyl ons vir hulle voorlees.  Ons beplan take en voltooi dit, ons maak dubbel seker van alles, ons herwin proppies en papier en ons maak steggies.  Ons is ordentlik en loop regop, glimlag gereeld en verstaan.

Ek is so ingedagte, so in my skik met ons Geduldige-generasie, dat ek ‘n dubbelfout maak.  “Spel!”, roep ek uit, en stap na die net toe om my opponent se hand te skud.

Vir wat lag jy so, vra Karen, jy’t die spel verloor? Ek vertel haar: ek lag omdat ek weet Kaal-se-kinders gaan eendag my geduld erf.  Ek kan sien sy dink my kop raas, maar sy’s van die Goeie generasie en sal dit nooit hardop sê nie.

Ons ruil kante en sy moet afslaan.  Sy hop-hop-hop die bal, om my te probeer intimideer natuurlik.  Maar sy moet oppas, ‘Ek het ‘n Plan Meneer Vuil,’n baie goeie plan’ : )

*Bloggers ken Carl as Die Ongeduldige Een…

Fire die Creepy

Die klokkie lui en ek kyk na die skerm.  By die hek staan ‘n gretige jong man:  ‘My name is Michael and I can clean your pool, Mum’ buk hy af na die interkom, een groot glimlag en die ene afwagting. ‘I use the 8-wheeler to scrub…’

Ek weet nie hoekom dit so is nie, maar ons het 2 swembaddens op ons werf… dat ek deel van ‘n 2-swembadwerf kan wees, is opsigself ‘n onbegryplike voorreg.

In die wildtuin was daar een groot swembad in die hele Skukuza en het ons in hom gespeel en geoefen en gala gehou.  Daar was geen swembad in privaatbesit nie. Pretoriuskop het ‘n klipswembad gehad, maar in my oë was dit nie ‘n regte swembad nie want hy is nie vierkantig en in trëe afgemeet nie.

Toe ons Bloemfontein toe verhuis, was ons die enigste mense in ‘n radius van heelwat kilometers wat NIE ‘n swembad gehad het nie.  Ma het gemeen dis ‘n goeie ding, want al wat mens heeldag doen is swembad skoonhou.  Pa het gemeen dis ‘n goeie ding want daar was ‘n welige groentetuin in daardie swembadlose sonkol.  Ek en my gebroeders het gemeen dis fine, ons mag in elkgeval nie op Sondae swem nie en dit was, daai jare, die enigste tyd wat ons regtig niks gedoen het nie, die res van die week was gevul met skool en sport en speel.

Ek het dus nooit geleer hoe om ‘n swembad skoon te hou nie.  Ek vrek wel oor ‘n swembad!  Ek onthou nog so goed hoe die Olimpiese grootte swembad by Maselspoort my hele  ASEM weggeslaan het!  Ek was van mening dat GEEN mens van die een kant na die ander kant in een skoot sal kan swem nie – waar hou jy vas om om te draai… Dis natuurlik ook in daardie selfde Standerd 6 jaar dat Elsabe my asem weggeswem het – sy was rugslag kampioen en ek kon my oë nie glo toe sy, nog so op haar rug! agteroor afduik en omdraai sonder om aan die kant te vat nie…  ek is steeds verwonderd : )

Nietemin! Danksy my Transvaalse jeug kon ons goed swem en het ek soms verbaas gestaan oor die feit dat heelwat kinders in my geliefde Kusdorpie nie kan swem nie (‘n mens swem mos nie in die see nie, leer ook nie swem in die see nie, en net een of twee vakansiehuise het swembaddens gehad –die hele see is tog daar om in te uhm, swem…  maar kop bo water swem is nie swem nie…).

En hier sit ek nou, dubbel bevoorreg sou julle dink.  Gha – sedert laas jaar pomp die pompe nie, creep die creepies nie, is die wondermiddel wat ons ingegooi het nie meer geredelik beskikbaar nie en stap ek vroeg elke oggend met twee bakkies chloor reg rondom  die twee swembaddens en verbleik al wat dryf en dobber daar binnne.

Die chloor laat my natuurlik nies en verlang.  My swemgala-dae was van my lekkerste dae – ek meen swem is die beste sport vir ‘n effense oorgewig tiener – as jy net eers die handdoek afgegooi en ingeduik het, verdwyn alle starende oë en sien toeskouers net die egalige, gladde bewegings van jou perfekte asemhaling en ritmiese skop.

Einde verlede jaar haal die Strewer duisende rande uit om twee pompe, twee timers en 2 creepiy crawleys te vervang – iewers tussen my gebrek aan creepy-kennis en die kragonderbrekings het die pompe wind gesuig, gepomp toe hulle nie moes pomp nie en gevolglik gevrek.  Creepies het blykbaar diafragmas, en die is oud en verinneweerd en moet vervang word. Die pype is made-in-china en kraak na twee maande in die somerson.

Saterdagmiddag het ek ‘n afspraak met die creepies. Ek raas en dreig om hulle op die rand in die son te los.  Ek word ignoreer: jut-jut-jut-jut suig hulle verder, ronde sirkels in ‘n vierkantige swembad. Vir wat gaan sit jy elke keer op die trap vas, vra ek die Boonste creepy. Jut-jut-jut-jut.

En jy? Ek’t nou al 2 ekstra made-in-chinas ingesit en jy kan steeds nie die verste punt bykom nie.  Lappool-creepy hoor my nie eens nie.  Jut-jut-jut-jut, snuif hy chloor.

My Pa het al in 1976 gedink mense moet blomtuine met groentetuine vervang.  My Ma het toe al geweet swembadskoonmaak is harde werk.

Op my agenda vanmiddag met die Strewer:

Wat as…  Wat as ons die creepies fire, die pompe afskakel en die made-in-chinas in die stoor bêre?

  • Dan kan ons een mens werk gee een dag ‘n week.  Dis geld in sy sak, kos in sy maag, spiere in die son, glimlag op die kinders se gesigte, helfte van ons kragrekening af…

Hy dink dis ‘n slim plan en hoogtyd.  Ons sien juis nou die dag ‘n skoenfabriek in Ethiopië (op Discovery kanaal natuurlik).  Net: daar is geen fabriek nie.  Onder bome, in klein koeltes, onder afdakkies, in rye en rye, sit glimlaggende, maer maar gelukkige mense en skoene maak.  Met elsies en vlas en leer.

“We do not use machines, we do not have many machines.  We use people, we have many people”, verduidelik die mooi projekbestuurder in die kamera.

Come this Saturday at nine, praat ek in die interkom – bring your ID, a reference letter and that 8 wheeler thingy…

My oë traan so toe ek die wip in sy wegstap sien, dat ek skoon vergeet om hom sy selfoonnommer te vra.  Ek beter gaan mooi praat met die Creepies: Daar is ander geleenthede daar buite – Gumtree toe met julle…

Die creepies verstaan: jut-jut-jut – geduldig, gedienstig, gedwëe…

 

Dis Beter om te Ontvang

Re-gifting is die eerste keer verwoord in ‘n Seinfeld episode jare gelede al. Om iets wéér te gee, het my nog nooit laat sleg voel nie.

Ek is, inderdaad, ‘n ongelooflike re-gifter.

In die hoekkas in ons gimnasium het ek ‘n stewige boks (‘n klein TV was op ‘n stadium daarin) wat al saam met my kom sedert 1999 toe ek vir die eerste keer Johannesburg toe getrek het. In daardie boks het ek alles gebêre wat ek nog ooit present gekry het en nie op daardie stadium myself waardig genoeg ge-ag het om self te gebruik nie. Gegeurde sepies, badkristalle, pragtige geblomde servette, bont handgemaakte kerse, haarknippies van leer en hout. Ook sulke goed soos ‘n fyn teepot uit skoonma se huis – nog nuut in sy boks, ‘n messestel van Reader’s Digest, ook nog in die boksie. Al my linte en strikke en klein leë boksies is ook daarin. Vir jare lank het ek depositos in daardie boks gemaak. Die klein blou hand-handdoekies wat ek van Paula gekry het, is daarin. Dalk kan ek dit eendag vir Ma persent gee vir Mosseltjie, wat blou is, het ek vir jare gedink…

Ek het egter nooit geskenke uit die boks gevat nie. Maar net om te weet dat daar iets was om te gee, as die dag sou kom, het my geheel en al getroos. Want in my rowwe jare was daar die hele tyd koek-en-tee’s, verjaardae en inkopie-uitstappies. Dis die jare wat jou kinders klein is en ‘n mens met ander Ma’s deel en leer en saamkuier omdat jy nie die 5-jarige warboel sonder toesig by iemand anders kan afgee nie. Dan is ek nog so grootgemaak ook: as jy na ‘n gasvrou gaan, vat jy iets saam. In daardie tyd het ek skaars geld vir komkommer gehad, wat nog te sê iets vir die gasvrou. Ek het gevolglik bitter min tee’s en partytjies bygewoon. En wanneer die seuns na partytjies moes gaan, het ek pyl-en-boë gemaak met takke uit die tuin en kolgansvere wat ons by die Dieretuin meer opgetel het. Vir die gasvrou sou ek dan helderoranje bessies, grasgroen delicious monster blare en fyn rooigrassade in ‘n wilde bos bymekaar maak en vasbind met een van my mooi linte wat al jare in die boks lê en wag om iemand se geskenkie op te tert.

Sedert ek my eie sakgeld verdien het, het ek natuurlik opgemaak vir al die kere wat ek so graag wou gee, maar nie kon bekostig nie: Ek koop sulke sinnelose goedjies soos geblomde kussinkies vir Nina (maar teendie tyd is haar rusbanke oorgroei met duur en unieke kussings); ‘n helder keramiek koppie vir Petru (al het haar kombuiskas teen die tyd die hele versameling Alessi in), ‘n digbundel vir Ané, al het sy, teen die tyd, haar eie publiseer.

Ek stapel dan daai goedjies ook in die boks, want ek’t geglo dis beter om te gee as om te ontvang. Maar iewers tussen die opstapel van wou-nog, sou-nog, wens ek kon nog; tussen die verleentheid en die hunkering na partytjies wat ek nie kon bywoon nie, het die toring getuimel: Ek het in die tweedehandse boekwinkel gestaan, by die kinderstories. En gewonder hoekom kla mense dat daar nie boekies vir kinders is nie. Of dat die boekies te duur is. Voor my was ‘n hele, baldagig-bonte boekrak vol kinderboekies, en BAIE van hulle in Afrikaans. Ek het een vir een boekies uit die rak gevat en deurgeblaai. Die Skoenmaker en die Elfies sommer net daar staan en lees. Vir R25.00 moet ek dit koop. Ek weet nog nie vir wie nie, die seuntjies in ons familie is nou al kinders en tieners. Ek het dit eenkant gesit en die volgende boekie uitgehaal. In Engels, maar een van daardie boekies wat jy aan die katjie se sagte wolletjie-voorkop kan voel. Blaai om en jy sien die renoster met ‘n stukkie leervel om aan te voel. Die eend se bekkie is plastiek en die dalmation se kolle van ferweel. Teen die tyd dat ek die laaste bladsy omblaai, en die luiperdwelpie se skurwe tongetjie van skuurpapier voel, traan ek skaamteloos en koop die boekie. Vir Carl, al was hy al amper 17 jaar oud. Hy het nooit sulke boekies gehad nie en ek het sy gretige handjies oor watte in die badkamerkas en skuurpapier in Oupas se stoorkamer en foelie in die spenskas laat gly. Ek weet dis ewe goed, maar ek sou so graag vir hom sulke boekies wou koop. Toe doen ek dit. En sit dit vir hom in die boks.

Skaars ‘n maand later gaan haal ek die boekie uit die boks en lees&voel dit weer: voel my skurwe tongetjie – grrrrr. Toe sit ek dit terug in my boekrak, nie in die boks nie.

Daardie aand, terwyl my bad intap, het ek na my boks in die hoekkas gegaan en vir die eerste keer iets uit daardie boks gevat. Dit was die pers bottel badolie – eksotiese orgidee, nog van Esme af, lank-lank gelde…

En dit vir myself gegee…

Ek het byna die helfte in my badwater gegiet, die skuimbolle het so hoog soos in TV sepies se badtonele gestaan. Met my skaam, wit lyfie het ek in die bad ingesink en net mooi alles wat die lewe te bied het, vir myself gevat.

Sedertdien, nes ek ‘n holkol kry omdat ek te veel verlang, of verskriklik alleen voel, haal ek iets uit my boks uit. Die afgelope twee jaar al herleef en verlang, geniet en glimlag ek onophoudelik, so ruim skenk my boks vir my alles wat ek so sorgvuldig gebêre het vir ingeval ek nie iets het om te gee nie.

Naskrif: Ek het nou net die blou handdoekies in ons vreeslike pienk gastetoilet gaan ophang, Paula, en hulle lyk pragtig, dankie.

Jy kannie! Ek weier.Jy kannie! Ek weier.

Ek het nog nooit iets vir my Vriendste Vriend gekoop nie. Dis nou iets soos ‘n verjaardaggeskenk, of ‘n kerspakkie of so iets. Ek het wel al vir middagetes betaal. Een beurt myne, een beurt syne.

Die laaste beurt was syne. Hy het my formeel genooi op Outlook: 28 December Gardiol Day. En op die oggend van die 28ste kry ek ‘n sms: Bokkie (dis altyd Bokkie of My Ding) Hoe laat en waar? Hy het al die pad van Rosebank na Ferndale gery om saam met my op Gardiol Day koek-en-tee by Annica’s Cakes te geniet.

En ons het heerlik gekuier! Hy het gewig verloor, gesond geleef en behoorlik geblom oor sy nuwe liefde in Pretoria; ‘n mooi, slim vrou. Presies wat by hom pas. (Hy het Brëebors Koekie inspireer – my sms aan hom toe ons klaar geëet het: ‘Dankie Vriendste, die wonderlikste emosie wat ‘n mens kan hê is om ge-ag te word’).

Nietemin, een week later koop ek vir die eerste keer in meer as dertig jaar vir hom ‘n geskenk – weliswaar ‘n 2de handse boek by die charity shop, maar steeds. Toe ek die boek optel en in my hand vashou, was dit asof my wese na hom gehunker het. Na dit wat hy is wat ek nooit kan wees nie: vry, enkel, waaghalsig. Daar is nie ‘n manier dat ek op ‘n motorfiets die paaie plat jaag nie. Dat ek huis & haard kan toesluit en vir weke lank net weg kan wees nie. En nou, minder as ‘n maand later, sit ek met die boek op my skoot… Wat de duiwel moet ék met dit maak? Ek sou dit vir hom in Maart gee het, net voor die vakansiedag.  Ek soek nie jou boek nie Vriendste, ek soek jou!  En nou is jy dood!

Dis donners onregverdig. En ek weet ek is uiters selfsugtig, maar die Lewe het my van my Gegewe beroof. My lewenslange Vriend, die een wat onvoorwaardelik van my gehou het, is nog nie eens 50 nie en gaan dood. Die mens met die suiwerste, sagste, ruimste hart, sterf sommer net so uit die bloute aan ‘n hartaanval.

… ek kon hom enige tyd bel, wanneer ek vir niemand-iemand op hierdie aarde kon vertel hoe ek voel nie…

In die drie dekades het ek dit 2 keer nodig gehad. Vandag is die derde keer. Ek moet met jou kan praat Vriendste! Jy kan nie net in my lewe wees for ever, so gemaklik, so vanselfsprekend, so solied – en dan sommer net weg wees nie.

Jy kannie! Ek weier. Jy kannie! Ek weier. Jy kannie! Ek weier. Jy kannie! Ek weier. Jy kannie! Ek weier. Jy kannie! Ek weier.Jy kannie! Ek weier.Jy kannie!

Cheers, Mam

Ek’t hom gister in Tlokwe gelos, liefste Alette. Net so een kilometer van die NWU kampus af.

Ons liefste Kind Kaal is nou ‘n PUK, Alette. More ontmoet hy dosente, predikante, dekane, die rektor en die kansellier. Maar dit beïndruk hom min – hy is baie banger vir die perdehoef-brandmerk wat die manne van The Villagers op sy boud gaan brand…

Alette, hy het ‘n piepklein, splinternuwe woonstelletjie met ‘n nuwe bed en beddegoed – niks is meer so pikswart en vol Che Guevara posters soos by die huis nie. Hy het sy eie koffie en suiker houers, handdoeke en wasgoedmandjie met sorg en groot geduld (!) uitgesoek. Met ‘n toegewydheid wat ek meestal net by French sien, het hy alles uitgepak en reggeskuif terwyl ek rustig by die nuwe ronde eettafeltjie vir jou sit en skryf. Kort-kort as ek opkyk, is hy besig om te pff-pff dan skuif hy die keteltjie in die ander hoek, pff-pff dan pak hy die duur Grolsch glase wat hy uit die kristal-kas gevat het, in die verste, agterste hoek – Ma weet mos hoe is studente, nou-nou breek hulle dit…

Hart-se-Punt!

Hy deel die woonstel met sy Jonatan-vriend en bbm kort-kort om te hoor wanneer daag hy op.

Dan vee hy die sweet van sy voorkop af, kyk my so stip aan dat ek my ruggraat reguit trek: “Cheers Mam”, sê hy en druk my hard teen sy pragtige lang lyf vas.

En net so, skielik, binne ‘n femtosekonde Alette, is hy groot. Gône.

Kale-klong-my donkie-long is uit my hande uit. Die wye, wonderlike wêreld in.

Ek luister ingedagte na die Garmin: turn left onto the N12. 105 km to Roodepoort. Ek stop langs die pad sodat ek my oë behoorlik kan droog vee voor ek terugry. Koop toe maar ‘n paar geelperskes by die smous.  Dis al wat ek kan doen. Dit, en natuurlik om vir jou dankie te sê, liefste Alette – ek wens jy was nog hier! Hang tog maar daar op die kampus rond, Alette, en hou hom dop; sien hoe gelukkig hy glimlag, hoe mooi hy is, hoe vasberade hy aan sy eie lewe beplan terwyl hy peri-peri buffalo wings eet.

Ek het jou rooshout voetbankie op sy miniatuur balkonnetjie gesit, Alette. Vir sy bierglas en sy asbakkie (nog die ronde rooie wat in jou sitkamer was). Tata liefste Alette – ek kry nie gegroet nie, ek gaan nou maar weer Chariots of Fire kyk sodat ek kan huil en klaarkry : ) – ek mis jou so baie wanneer dinge met my Kind Kaal te doen het, Alette – jy het hom so lief gehad!

 ”Cheers Alette”

Die Eerste Blogger in Ons Familie – 1948

Ek kan julle maar sê, ek traan so, dit neem dubbel my tik-tyd om hierdie skrywe op te tik. Ek is besig om Oupa (J. R ) Lϋckhoff se gedagtes op te tik, soos ek in my vorige skrywe onderneem het. Ek het vir die boekie moes gaan soek in een van my sentiment-bokse. Dit is dun en roomkleurig, net 36 bladsye lank – en ruik natuurlik nou die ene motbolle.

Voorop, ‘n prentjie van die Denker. SOMAAR GEDAGTES is die titel. Onder dit: Deur J. R. Lϋckhoff, M.A. Predikant van die N G Kerk, Gemeente van Kimberley 1943 – 1948.

Die Voorwoord is as volg:    “Die ontdekking dat alledaagse dinge – van spelde tot spelfoute – almal duidelike prikkels bevat om ons gedagtes op te lei na die onvergangklike waarhede van die lewe het aanleiding gegee tot die maandelikse rubriek Somaar Gedagtes, wat gedurende die afgelpe vyf-en-‘n-half jaar in die GEMEENTEBLAD verskyn het . In hierdie boekie word een-en-dertig van die stukkies wat van tyt tot tyd so verskyn het versamel, met die bedoeling dat dit as dagstukkies sal dien om gedurende een maand gelees te word. Dit is vir my eggenote en vir my ‘n groot voorreg om vandag hierdie publikasie aan te bied as

‘n Afskeidsgeskenk aan ons geliefde Gemeente met die vriendelike versoek dat dit ontvang sal word as ‘n aandenking aan ons waardering en dank, wat ons sekerlik nooit in woorde sal kan uitspreek nie.

Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel-en-al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus ! **

Die Skrywer                                                                    Kimberley 23 Sepember, 1948.

Op bladsy 21 is die gedagte: Vierkantig.

“’n Ier het eendag vir hom ‘n muur gebou. Dit was nie somaar ‘n alledaagse muur nie, o nee ! Hy het dit ses voet hoog gebou, en ook ses voet breed. Sy buurman wat hom vir ‘n lang tyd met agterdog dopgehou het vra hom eindelik waarom hy dan so ‘n buitengewone muur bou. Eers wou die Ier nie antwoord nie, maar toe die buurman nou op ‘n antwoord aandring kom hy tevoorskyn met sy verklaring: “kyk,” sê die Ier, “ ek bou hierdie muur net so breed as wat hy hoog is, sodat ingeval die wind hom omwaai hy nog net so hoog soos altyd is !”

As ek aan daardie Ier dink het ek lus om te sê skote petoors ! Dis nou ‘n klas van man daardie by wie enigeen kan skoolgaan. Dink net ‘n bietjie… Vierkantig ! Wat op aarde is meer onomstootlik as dit ? Somtyds komdaar ‘n geweldige storm, alles onderstebo, plat en stukkend, maar sodra die wind bedaar en die stof gaan lê is die ding wat vierkantig was nog net so hoog soos altyd. Van ‘n ronde ding het ek nog nooit gehou nie. Jy kry geen vattigheid daaraan nie; jy weet nie waar jy aan of af is daarmee nie; dit het geen begin of end nie en, met die eerse windjie wat kom rol dit weg. ‘n Plat ding is net so erg, en van ‘n vormlose ding wil ek gladnie eers praat nie. Maar vierkantig! Keer dit om, links, regs, of net soos jy wil, en dit bly onveranderlik, onomstootlik, altyd dieselfde.

Dit tref my dat ek hier te doen het met ‘n baie wonderlike simbool; ‘n pragtige ideaal: Om vierkantig te wees in jou lewe, jou karakter, en jou beginsels. Om in alle rigtings en ten alle tye onveranderlik te wees teenoor jouself, tenoor mense, teenoor moeilikhede enprobleme, teenoor belydenis en plig. Standvastig, lojaal, getrou. Die lengte van jou ambisie; die breedte van ju liefde; die hoogte van van jou godsvrug, hierdie dinge moet gleyk wees.

Maar wag ‘n bietjie, ek het mos iets van die aard gelees… ja, hier is dit: Openb.21:16 – Die nuwe Jerusalem het vierkantig gelê, sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. Hoe sal ek ooit eendag in die Hemel inpas as ek nie reeds op aarde vierkantig is nie?

 ——–

Trane afgevee, besef ek nou: die eerste blogger in ons familie was my Oupa See – dieselfde interessante man wat vir my ‘n klein blou vergrootglasie gegee het waarmee ek en hy die fynste blommetjies en skulpies se binnekantjies bekyk het. Hy was ook ‘n 10-kamp kampioen; ‘n springbok alteet wat in die Statebondspele van 1934 2 medaljes verdien het…

Ek het nie sy lang lyf of sy sporttalent ge-erf nie. Maar my absolute verwondering oor die Lewe, kom sekerlik van hom af. As ek hý was, sou ek chuffed gewees het. Hy was chuffed met my, destyds by Stroompie, besef ek nou…

En hier vind ek myself alweer chuffed met myself – hehehe, Achtung Baby!

**Naskrif: My Oupa See is ook die rede waarom ek net na tradisionele kerke met groot orrels wil gaan. Ek kry hoendervleis terwyl ek daardie paragraaf optik – ek is gereeld vir 30 jaar lank so gesëen wanneer ek Oupa se kerk bygewoon het. Ek sien hom in my geestesoog: sy aantreklike, gesonde lang lyf, sy arms oor die gemeente uitgestrek, die swart toga soos ‘n regter se kleed: …sy met u almal, amen…

Preke in daardie jare het jou vermaan, dan moed ingepraat en dan, ALTYD, getroos.

Berading 101, DoctorGardiolBabe…